COVID-19 Paniek ('n Bybelse Aanslag) - Rudi van Zyl
Covid-19: ‘n Bybelse Aanslag op Massa-Paniek
Rudi van Zyl
2020-03-23
In 2Timótheüs 1:7 lees
ons:
"Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee
nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing."
Die gesegde “’n week is ‘n lang tyd in die politiek’ beteken
dat daar baie dinge binne ‘n enkele week kan gebeur in die politiek. Hierdie
afgelope week moes ons besef hoeveel dinge in ‘n enkele week in die wêreld kan
verander. Was dit die mikroskopies-kleine Covid-19 virus wat baie bedrywighede
oor die hele wêreld tot stilstand gebering het, of ten minste verander het? Was
dit nie eerder die mens se paniek oor hierdie virus wat te blameer is
vir hierdie wêreldwye ellende nie? Ek is geneig om laasgenoemde te glo.
Woorde kan nie die graad van massa-paniek beskryf wat
tans heers nie. Covid-19 oorheers die nuusmedia, die sosiale media, gesprekke
tussen mense, en vele meer. Met die inligting wat tot my beskikking is oor die
effek van hierdie virus kan ek nie anders nie as om te vra: “Waarom hierdie
massa-histerie?” Ek wil dit duidelik stel dat ek besef dat hierdie pandemie
baie ernstig is. Ek hou rekening met die feit dat dit hoogs-aansteeklik is en
vinnig versprei. Ek is nie onbekend met die feit dat sommige mense intense
lyding ervaar as gevolg van hierdie virus, en selfs sterwe nie? Om ‘n geliefde
te begrawe is ‘n tragedie wat enige mens wil vermy. Tog, wanneer al die feite
wat vir ons deurgegee word oor hierdie pandemie in ag geneem word bly die
vraag: “Regverdig dit hierdie massa-paniek?”
In ‘n berig getiteld “Gaan SA Oorleef?” wat 19 Maart op Maroelamedia verskyn het word die
volgende stelling gemaak:
“Die paniek
wat Covid-19 tot gevolg het hou volgens verskeie kenners meer gevaar in as
die siekte self.”
Hierdie paniek wat deur die media aangeblaas word sleur
nie slegs die ongelowiges mee nie, maar selfs die kinders van die Here word
meegevoer met hierdie massa-paniek. Dít is egter nie God se wil vir ons nie.
Die Here Jesus wil nie hê dat ons in angs moet lewe nie. Die weergebore kind
van God is wel ín hierdie wêreld, maar nie ván hierdie wêreld nie. Daarom mag
ons nie toelaat dat ons vervul word met paniek nie.
Om hierdie paniek te kan begryp sal dit nodig wees om
eerstens die onderwerp van die paniek te verstaan.
1. Onderwerp van die Paniek:
Die Covid-19 virus is die onderwerp van hierdie wêreldwye
paniek, maar waar kom dit vandaan?
Verskeie verklarings
word gemaak, naamlik:
1.1 Goddelike Wraak:
Mense van verskillende gelowe glo dat húlle god besig is om hul opponente te straf. So berig Times Live dat Zimbabwe se minister van
Verdediging en Oorlogsveterane Oppah Muchinguri Kashiri die volgende verklaring
gemaak het:
“Coronavirus is punishment for the West imposing
sanctions on Zimbabwe”.
Sulke stellings moet behandel word met die minagting wat
dit verdien. Dat die Waaragtige Drie-Enige God van die Bybel wél sulke metodes gebruik om bemoeienis te
maak met die mensdom of selfs te vergeld kan egter nie betwis word nie.
Die Here God het aan
Israel sekere seëninge belowe as hulle Hom sou gehoorsaam, maar dan het Hy ook
hulle gewaarsku teen die vloeke wat hulle sou tref as hulle Hom nie gehoorsaam
dien nie. So lees ons in Deuteronómium 28:66-67:
“En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang, en jy sal
nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie. In die môre
sal jy sê: Ag, was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Ag, was dit maar
môre! —vanweë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp, en vanweë die
gesig van jou oë wat jy sal sien.”
So sê die Here ook in Jesaja 66:4:
“so sal Ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik
vervul, oor hulle laat kom; omdat Ek geroep en niemand geantwoord het nie,
Ek gespreek en hulle nie gehoor het nie; maar hulle het gedoen wat verkeerd is
in my oë, en
verkies wat My nie behaag nie.”
Sou hierdie pandemie Goddelike wraak wees, is dit egter
geregverdig. Die sondes van die mensdom roep om vergelding!
1.2 Natuurlike Pandemie:
Sommiges beweer dat Covid-19 afkomstig is van diere soos
slange en vlermuise wat op die kosmark in Wuhan verkoop is. Of dit wel die
waarheid is weet ons nie.
Wat ons wel weet is dat die Here Jesus vir ons vooruit
gesê het dat die uitbreek van pessiektes een van die tekens is van Sy naderende
wederkoms.
Ons lees in Lukas
21:11:
“En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke
wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en
groot tekens van die hemel kom.”
Alhoewel die voorkoms
van pandemies geensins iets nuuts is nie is die toename en intensiteit daarvan
wel.
In 2007 skryf Jaap
Dieleman in sy boek getiteld ‘Die Koms
van die Koning der konings’ bl 61 die volgende:
“’n Paar van die peste
wat ons die afgelope paar jare gesien het, is varkgriep, bek-en-klouseer,
malkoeisiekte (BSE) en voëlgriep (SARS). Die naarstigtelike vrees bestaan dat
die voëlgriep van Asië, wat onlangs oor die hele wêreld versprei het, dalk kan
muteer in ’n moordende siekte vir mense. Dit is egter nie bloot verdoemende
denke nie, want in die Middeleeue het die builepes 50 miljoen mense se lewens
geëis in Europa.”
Ø
Vigs:
“Vigs het ook oor die
hele wêreld versprei en al miljoene mense se lewens geneem. Sedert die eerste
Vigs slagoffers, het hierdie virus al gemuteer in baie meer dodelike
variëteite. En wat van die hoogs aansteeklike Ebola-virus, wat slagoffers
daarvan binne enkele dae laat sterf, hulle laat dood bloei op ‘n baie pynlike
wyse?”
Ø
Malaria:
Volgens die Wêreld Gesondheid Organisasie se berig
gedateer 28 Junie 2019 sterf daar elke 2 minute ‘n kind aan Malaria. Dit
beteken dat daar jaarliks 262 800 kinders sterf aan Malaria! Die volgende
stelling word dan gemaak:
“Each
year, more than 200 million new cases of the disease are reported”.
Ø
Kanker:
Statistiek deur die Internasionale Vereniging vir Kankernavorsing vir 2014 toon dat ongeveer 14 miljoen mense per jaar met kanker
gediagnoseer word.
Volgens LifeNews
sterf 8,2 miljoen mense jaarliks aan kanker!
Ø Depressie:
Die Burger van 2012-10-10 het 'n artikel geplaas onder
die titel ‘Depressie - die siekte wat
verswelg’. Hierdin word Depressie beskryf as ’n “Globale Krisis”. Dan word gesê:
“Depressie is
wêreldwyd die derde grootste siekte, maar sal teen 2020 die tweede grootste
wees, en teen 2030 die heel grootste”.
“Volgens statistieke
ly tussen 350 en 400 miljoen mense aan ’n psigiatriese siekte.”
“Jaarliks sterf byna 1 miljoen mense aan selfdood.”
Die volgende statistiek word bekend gemaak in 'n
dokumentêr getiteld ‘Making a killing’.
Hiervolgens is daar huidiglik 100 miljoen mense op
psigiatriese medikasie soos anti-depresante!
As jy kyk na die massa-paniek oor Covid-19, weet dan: ‘You ain’t seen nothing yet!’. Die Here Jesus het voorspel in Lukas
21:25-26:
“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op
die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en
branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van
die dinge wat oor die wêreld
kom.”
1.3
Biologiese Oorlogvoering:
Vanuit verskillende bronne word beweer dat die Covid-19
virus egter in ‘n laboratorium in Wuhan gekweek is vir die doeleindes van
biologiese oorlogvoering. Enige iemand wat so ‘n moontlikheid sonder ‘n
feite-oorweging afwys moet uiters naïef of oningelig wees oor wat agter die
skerms aangaan. Die aanwesigheid van magte wat ‘n bepaalde agenda vir die
mensdom dryf is lank al geen geheim meer nie.
Dr. John Hagee skryf in sy boek ‘Attack on America’ bl 124:
“After the First
World War, several countries began experimenting with anthrax, tularemia,
plaque, and yellow fever. In 1989, the CIA learned that a vast complex of
buildings in the heart of Russian Siberia was the center of what is called
black biology. The program is called Vector, and it contains a bank of 10 000
viruses, including 140 strains of smallpox and three kinds of Ebola, the
disease that literally causes your internal organs to hemorrhage and
disintegrate. A former Russian scientist told journalist Diane Sawyer that the
Russians may have engineered a deadly genetic merger – a marriage of smallpox
and Ebola. The mortality rate of such a virus would be 90 to 100 percent, and
there are no treatments.”
Dr. Robert Jeffress haal in sy boek getiteld ‘Countdown to the Apocalypse’ bl 20 die
US Government’s Biomedical Advanced Research and Development Authority aan waar
Ebola verklaar word as “a bioterrorism
threat”, waarna hy vir Matt Mayer as volg aanhaal:
“Knowing that the
Ebola virus is exposing about our known deficiencies, imagine what will happen
should a superbug appear or our enemies successfully weaponize a far deadlier
virus. The mass casualties from the pandemic influenza bug a hundred years ago
would pale in comparison, given modern air travel and far higher population
densities.”
So kan daar nog baie feite op die tafel gelê word wat
genoeg rede gee om die vraag te vra of Covid-19 nie dalk die produk van die
menslike selfvernietigingsproses is nie.
Ons sal nie met sekerheid kan sê wat die oorsprong van
hierdie virus is nie, maar wat is die rede vir die paniek?
2. Rede vir die Paniek:
Die afgelope week het iemand op RSG tereg die stelling
gemaak dat die angs wat die mense beleef met betrekking tot Covid-19 as gevolg
van hul vrees vir die sterflike en die onbekende is.
2.1 Doodsvrees:
Die Bybel leer vir ons
in Hebreërs 9:27 dat:
“die mense bestem is
om een maal te sterwe en daarna die oordeel”.
Vir die massas mense wat nog steeds in hul sondige
verlore toestand is waarin hulle gebore is, is die dood angswekkend. Hulle
vrees daardie gebeurtenis en wil dit ten alle koste uitstel vir so lank as
moontlik, wetende dat hulle die afspraak met die dood nie kan vermy nie.
Vir die ware weergebore kind van God wat in heiligheid
met Hom wandel is die dood geensins ‘n ramp nie. Soos die Apostel Paulus kan hy
ook sê:
“Want vir my is die
lewe Christus en die sterwe wins. Maar as ek in die vlees moet lewe, dan
beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. Want
ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus
te wees, want dit is verreweg die beste” (Filippense 1:21-23)
2.2 Onsekerheid:
Die ongeredde mens se paniek oor die onsekerheid van die
toekoms is te begryp wanneer jy sien hoedat hulle hul hoop plaas in aardse
dinge soos geld. Hulle soek sekuriteit op verkeerde plek, en daarom is die
toekoms vir hulle donker.
Iemand wie se lewe egter aan die Here Jesus oorgegee is
vertrou op God ook wat die toekoms betref.
Maar ook is die toekoms nie onseker vir die kind van God
nie, die toekoms is vir ons beskryf:
In Openbaring 1:1 lees ons:
“Die openbaring van
Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou
moet gebeur”
Bybelprofesie berei die kind van God voor vir die
toekoms, geen wonder vers 3 sê:
“Salig is hy wat die
woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe
is, want die tyd is naby.”
2.3 Misplaaste Prioriteite:
So skrikwekkend wat
Covid-19 ookal mag wees is die massa-paniek hieroor die produk van misplaaste
prioriteite. Ek kan verstaan dat die ongeredde mense paniekbevange is oor dit,
maar wat ek nie kan verstaan nie is dat weergebore kinders van God toelaat dat
hierdie paniek hulle meevoer. My vraag is:
“Waar is ons ontsteltenis oor dinge wat baie erger is?”
Ø Vervolging van Christene:
Waar is ons bekommernis
oor die 50 000 mense wat in Noord Korea se gevangenisse en arbeiderskampe
aangehou word as gevolg van hul geloof in Jesus? (CT News and Reporting – ‘The Top 50 Countries Where It’s Most
Dangerous to Follow Jesus’)
Wat van al die Christene
wat daagliks in Afganistan, Somalia, Eritrea, Yemen, Iran, ens. erge vervolging
beleef as gevolg van hul geloof?
In ‘The Top 50 Countries Where It’s Hardest to be a Christian’ van 15
Januarie 2020 skryf Jason Casper dat daar elke dag 8 Christene wêreldwyd
doodgemaak word vir hulle geloof, 182 kerke word weekliks aangeval, 309
Christene word maandeliks onskuldiglik gearresteer, en 310
miljoen Christene ly tans onder ernstige vervolging!
Ø Alkohol:
Waar is die bekommernis
oor wat Alkoholiese drank aan die mensdom doen. Behalwe vir maatskaplike
tragedie wat hierdie middel veroorsaak, vernietig dit mense se gesondheid.
Volgens die Wêreld Gesondheid
Organisasie (21 September 2018) is 3 miljoen sterftes per jaar toe
te skryf aan alkohol, wat 5,3 % van alle sterfes is. Verder is dit die oorsaak
van meer as 200 siektes! 13,5% van alle sterftes van mense tussen die
ouderdomme van 20-39 jaar is toe te skryf aan alkohol!
Ø Aborsies:
Waar is die Christene se
ontsteltenis oor die 42,3 miljoen babas wat in 2019 vermoor is deur middel van
aborsies? (Volgens Life News). Babas
wat wreed vermoor word sonder dat hulle hul stemme kan laat hoor, terwyl die
moordenaars van hierdie babas beskerm word deur wetgewing, of selfs deur
wetgewing gedwing word om dit te doen!
Ø Verlore Mensdom:
Waar is die bekommernis
oor die massas kosbare siele wat verlore gaan ‘n swawelbrandende ewige vuur
tegemoet sonder God en sonder hoop! Tussen
2 en 3 mense sterf elke sekonde, die meeste van hierdie mense sonder
Jesus Christus in hul lewens!
3. Gevolge van die Paniek:
3.1 Fisieke Gevolge:
Dit is bewys dat mense
wat in angs lewe baie meer vatbaar is vir verskeie siektes. Die kettingreaksie
wat die Corona-paniek tot gevolg sal hê sal die toekoms leer.
Ek gaan egter bietjie
aandag gee aan die volgende drie gevolge van hierdie paniek. Die boeke Daniël
en Openbaring beskryf vir ons baie duidelik dat die Antichris ‘n drie-ledige
magsbasis gaan hê, naamlik ‘n ekonomiese,
politieke en godsdienstige magsbasis. Hierdie
afgelope week het dit baie duidelik geword hoe maklik so ‘n drie-ledige
magsbasis geskep kan word uit massa-paniek wat deur die media gedryf is. Daarom
gaan daar na die volgende drie gevolge gekyk word.
3.2 Ekonomiese Gevolge:
Binne enkele dae het die hele wêreld se ekonomie (wat in
elk geval kunsmatig aan die gang gehou was) in ‘n ‘nagmerrie’ ontaard. Drastiese
maatreëls is ingestel wat volgens kenners tot baie groot werkloosheid gaan lei,
en dit word geregverdig deur die ‘Corona-paniek’. Ek is bewus van kinders van
die Here wat met onmiddelike effek geen inkomste meer het nie! Hierdie is nie
die gevolg van die Covid-19 virus nie, maar wel van die paniek wat
aangeblaas is oor hierdie virus!
Wat verstaan moet word, is dat daar aleeds vir jare
beplan word om die ekonomie te
‘reset’. Die huidige ekonomie moet eers in duie stort sodat ‘n nuwe een
geskep kan word waardeur die Antichris sy mag kan gebruik. Ons lees in Openbaring 13:16-17:
“En hy maak dat aan almal, klein en groot, en
die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle
regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of
verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van
sy naam het.”
Dit is geen geheim meer dat daar baie ernstig gewerk word
aan ‘n kontantlose een-wêreld geldstelsel. Elke mens gaan ‘n ingeplante
mikro-skyfie gaan ontvang op sy regterhand, en dit gaan alle kontant en kaarte
gaan vervang.
Die ekonomiese
ineenstorting word verder bespoedig deur ‘paniekkopery’ waar mense soos
waansinniges met kredietkaarte massas voorade aankoop.
Hierdie wêreldwye
ekonomiese krisis maak dit moontlik vir die Antichris om sy ekonomiese
magsbasis te implimenteer.
3.3 Politieke Gevolge:
Te midde van hierdie
wêreldwye paniek het vele lande se presidente ‘n ramp-toestand afgekondig wat
hulle die mag gee om radikale wetgewings aan te kondig. Gepaardgaande polisiëring is skielik in plek gestel. Geleenthede wat
astronomiese bedrae gekos het om te reël is skielik gekanseleer en bywoning van
samekomste word deur radikale wetgewing beperk.
Skielik is die mens ontnugter
deur die feit dat elke mens, selfs in ‘n
demokrasie, slegs weerlose subjekte is van ‘n stelsel. Vryheid van ons
Godsdiensbeoefening, vryheid van beweging, vryheid om ‘n inkomste te genereer,
ens. is skielik in ‘n sekere sin van ons weg geneem en in die hande van die
staat geplaas. Ons vryheid om self verantwoordelikheid te neem word van ons
weggeneem, want hierdie stelsel soek nie onderdane wat vir hulle self kan dink
nie. Hulle wil volle beheer oor almal en alles hê.
Die politieke gevolge van hierdie paniek het ook die
tafel gedek vir die Antichris se politieke magsbasis.
3.4 Geestelike Gevolge:
Velede Sondag was daar nog reg oor die land dienste gehou
waar daar geen beperking was op die getal bywoners nie. Vandag, ‘n week later,
is die meeste kerke in SA se deure gesluit. Alternatiewe soos selgroepe en
‘lifestreaming’ het die samekomste van gelowiges vervang! Alhoewel
gesondheidsgevaar van Covid-19 as rede aangevoer word vir hierdie tydelike
maatreël, het dit aan ons bewys dat die kerk geen bepalende faktor is
waarmee daar mee rekening gehou word nie. Sonder om die Christelike
kerkleiers se mening te vra het die regering eensydig hierdie besluit gemaak en
afgedwing.
Kinders van die Here word nou geïsoleer, iets wat teenstrydig is met God se
Woord. En in ‘n krisistyd
soos hierdie waar mense juis die gemeenskap van gelowiges nodig het om hulle
geloof te versterk maak kerke hul deure toe!
Baie kerke doen dit
egter nie slegs uit gehoorsaamheid aan die landswette nie, maar uit vrees
vir vervolging. Dit kan miskien geregverdig word wanneer daar geredeneer
word hulle oorweging die gesondheidsrisiko van die gemeentelede is, maar ook
het dit bewys hoe vinnig die kerke gehoor sal gee as die Antichris sy
verskyning maak en ‘n verbod plaas op enige Godsdienstige bedrywighede.
Wat egter ‘n rede tot
groot kommer is, is die paniek wat kerkleiers oor hierdie virus het. Oor jare
heen verkondig ons ‘geloof in die
Here Jesus Christus’. Nou dat ons geloof getoets word val ons in
paniek?
Een van die geestelike gevolge
van massa-paniek is egter ‘verharding’. ‘n Mens sou dink dat sulke
omstandighede die mens na God sal trek, maar in sommige gevalle is die teendeel
waar. So lees ons dat in die komende Groot Verdukking mense hulle sal verhard teen
God.
Openbaring 16:11 “en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle
pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie.”
‘n Ander geestelike
resulaat is egter die moontlikheid van ‘Herlewing’. Ware herlewings in
die geskiedenis was dikwels vooraf gegaan deur ‘n nasionale of globale krisis.
Hierdie pandemie gepaardgaande met ‘n wêreldwye ekonomiese ineenstorting kan
gunstige omstandighede wees waarbinne die mens in sy desperaatheid sy toevlug na
die Here Jesus Christus sal neem.
Die probleem is egter
dat die Antichris juis sy een-wêreldgodsdiens kan skep deur die ‘samewerking’
van verskillende godsdienste. President Ramaphosa het alreeds met verskillende
‘godsdiensleiers’ vergader en ‘n nasionale dag van verootmoediging word beplan.
So ‘n dag van verootmoediging sal geensins God behaag solank as wat daar tot
ander gode gebid word nie. So ‘n gebeurtenis sal net sonde op sonde laai! Alleenlik as daar slegs tot die
Drie-Enige God van die Bybel geroep word en tot Hóm bekeer word is daar hoop!
Maar wat is die oplossing vir hierdie paniek?
4. Oplossing vir die Paniek:
Niemand van ons se vrywaring van die Covid-19 virus is
gewaarborg nie, maar ons mag nie toelaat dat ons deel hê in die massa-paniek
wat dit veroorsaak nie. Om verlos te kan word van hierdie paniek, of om dit te kan vermy is vier dinge
nodig:
4.1 Verhouding met Jesus:
Elke mens is as gevolg van die sondeval gebore as ‘n
verlore sondaar. Elke mens het ook gesondig teen God en verdien
gevolglik God se komende wraak in die ewige poel van vuur. Elke mens kan
gered word deur sy sondes teenoor die Here Jesus te bely, hom daarvan te bekeer,
en sy geloof plaas in die kruisdood
en opstanding van die Here Jesus Christus, waarop God antwoord deur die wedergeboorte
te skenk en aan hierdie mens sekerheid van saligheid gee.
Elke kind van God wat afgedwaal het of verflou het
in sy verhouding met die Here Jesus moet terugkeer na Hom, en sy lewe
onvoorwaardelik aan die Here Jesus oorgee en toewy. In Lukas 21:36 sê die Here
Jesus:
“Waak dan en bid
altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te
ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
4.2 Produktiwiteit:
Elke kind van God wat
nog lewe op aarde is hier met ‘n baie spesifieke doel, naamlik om God
te verheerlik. Ons is nie hier om ‘n gemaklike lewe te leef, vry van moeite
en probleme nie. Inteendeel, ons is in hierdie Goddelose wêreld waar ons as
volgelinge van die Here Jesus ons kruis moet dra en ons taak voltooi. Daarom
lees ons ook in 1Petrus 4:2:
“om die orige tyd in die vlees nie meer
volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van
God.”
4.3 Voortdurende Afhanklikheid:
Die Here Jesus het ons daaraan herinner dat ons nie een
el by ons lengte kan byvoeg deur ons te kwel nie. Hy wil nie hê dat ons
bekommerd moet wees oor die toekoms nie, maar wel dat ons oomblik-vir-oomblik
met Hom sal wandel in afhanklikheid.
Daar is genoeg beloftes vir ons in sy Woord, soos in
Nahum 1:7:
“Die HERE is goed, ‘n
toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.”
4.4. Ewigheidsperspektief:
Sien God se groter plan
met ons en hierdie wêreld raak. Moenie ‘aards’ dink nie, maar ‘hemels’. Die
Here Jesus kom spoedig ons as sy kinders haal. Daarom dat Hy ook in Lukas 21:28
sê:
“En as hierdie dinge
begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby
is.”
Ten Slotte:
Die Here Jesus wil nie
hê dat ons in vrees lewe nie, maar dat ons rus in Hom met vertroue. Hy is
steeds in beheer, al beheer Hy nie alles nie.
Tog beteken dit nie dat
ons roekeloos moet omgaan met iets soos hierdie pandemie nie. Ons moet ons verstand
gebruik en alle nodige voorsorg tref soos binne ons vermoë. Die Covid-19 virus
is ‘n realiteit en dit hou ongetwyfeld groot gesondheidsrisiko in vir vele
mense. Ons moet verantwoordelik optree en nie onsself of ander mense onnodig
blootstel hieraan nie. Voorkoming is beter as genesing.
Die belangrikste is
egter, moenie meegevoer word met die massa-paniek nie. Hou jou vertroue in
die Here Jesus.