Salwing Met Olie: `n Bybelse Gebruik? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)


Inleiding:

Die gebruik om materiële bates soos geboue, meubelment, en toerusting met olie te salf is in die hedendaagse tyd `n bekende verskynsel onder sekere Christelike groepe. Die voorstaanders van hierdie gebruik koppel groot geestelike waarde daaraan en beskou dit as essensieel tot die Goddelike beskerming van die Christen se besittings. Dit mag dalk vir sommiges aanneembaar of miskien slegs onskuldig klink, maar is dit?

Geestelike misleiding is nie uniek aan die 21ste eeu waarin ons leef  nie, maar dit is `n verskynsel wat alreeds voorgekom het in die Tuin van Eden met die sondeval (Gen. 3). Maar dat dit aan die toeneem is kan duidelik gesien word in ons geslag. Die toename van geestelike misleiding is dan ook baie duidelik voorspel as `n teken van die spoedig-naderende wederkoms van onse Here Jesus. Die Apostel Paulus skryf  in 1 Tim. 4:1 (AOV): "Maar die Gees sê uidruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang." Dit is egter waar van die tyd waarin ons leef. Daar is baie sogenaamde belydende Christene wat nie meer tevrede is met die ou waarhede van die Evangelie nie, en hulself toenemend wend tot "fabels" (2 Tim. 4:4 AOV). '
Heidense gebruike gekamofleerd in `n Christelike baadjie infiltreer die Kerk van Christus hier op aarde, terwyl die kinders van die Here gekondisioneer word met duiwelse praktyke. Dit is egter die gevolg van onkunde. Onderskeidingsvermoë ontbreek by baie kinders van die Here, en hulle is bang om hulself uit te spreek oor dinge waarmee hulle nie bekend is nie, omdat hulle nie wil oordeel nie.

Tog leer die skrif baie duidelik: "Geliefdes, glo nie elke Gees nie, maar stel die Geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan."  (1 Joh. 4:1 AOV). Die weergebore kind van God behoort die Skrif as sy rigtingwysing te hê soos wat Dawid dit ook sê in Psalm 119: 105 (AOV) "U woord is `n lamp vir my voet en `n lig vir my pad". Elke geestelike gebruik behoort getoets te word aan die onfeilbare Woord van God. As die Skrif niks daaroor sê nie, mag dit geensins aanvaar word as Godgegewe nie. Die Bybel is vomaak en die Heilige Gees herhinner die kind van God aan dit wat Jesus gesê het (1 Joh. 14:26).

Wat dan hierdie vraagstuk betref moet die Skrif toegelaat word om duidelikheid te gee.

1. Wat die Skrif leer:

1.1. Die Ou Testament:

a. Persone wat gesalf is:

Aäron en sy seuns is gesalf om in die Priesterskamp te dien. Ex. 30:30 (AOV): " Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir my die priesteramp te bedien." Lees ook Ex. 28:41, 29:7, 29:29, 40:13,15.

Konings was gesalf om oor God se volk regeer.
1Sam. 15:1 (AOV) "Toe sê Samuel vir Saul: Die Here het my gestuur om jou as Koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die Here ." So vind ons ook hierdie gebruik opgeteken in 1 Sam. 16:13, 1 Kon. 1:34, 19:15-16.

Profete was gesalf om die woord wat hulle van God gehoor het aan die mense oor te dra, 1 Kon. 19:16 (AOV) "...en Elisa, die seun van Safat, uit Abel-Mehola, moet jy salf as profeet in jou plek." Lees ook Ps. 105:15.

b. Voorwerpe wat gesalf is:

Die tent van samekoms (Ex. 30:26) / die Tabernakel met sy gereedskap (Ex. 40:9-11) is gesalf as "hoogheilige" items wat uitsluitlik vir die gebruik van die Tabernakeldiens was.

Oorlogsuitrusting.
Jes. 21:5 (AOV): "Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, hulle drink...Staan op, o vorste, salf die skild!"  Volgens Barnes (2014) was die doel daarvan slegs om penetrasie te bemoeilik. Dit was slegs vir praktiese redes gedoen, en het hoegenaamd geen geestelike motief gehad nie.

c. Ander gebruike:

Ligaamlike versorging.
2 Sam. 12:20 (AOV) "Toe het Dawid van die grond opgestaan en hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek en in die huis van die Here gegaan en aanbid." Lees ook Rig.3:3, 2 Sam. 14:2, Hoogl. 1:3.

Genesingsmiddel.
Jes. 1:6 (AOV): "Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie."

1.2. Die Nuwe Testament:

Siekes word met olie gesalf.
Jak. 5:14-15 (AOV): "Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig." Dit is baie duidelik dat hier geen mistieke waarde in die salwing van olie is nie, maar dat dit slegs dien as simboliek. Lees ook Mark.6:13.

Die kinders van die Here is gesalf met die Heilige Gees. 1 Joh. 2:20 (AOV): "En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. Lees ook Joh. 2:27, 2 Kor.1:21.

Die Here Jesus is die Gesalfde.
Heb.1:9 (AOV): "U het die geregtigheid liefgehad en die ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. Lees ook Hand.4:27, 10:38, Luk. 4:18. Die Here Jesus se liggaam is ook gesalf. Mark. 14:8 (AOV): "Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf."

2. Wat die Valse Profete leer:

Hierdie gebruik is deel van die sogenaamde "Spiritual Warfare" wat bekend gestel is deur Peter Wagner en George Otis (Malan 2011) en gebasseer is op Ef.6 en 2 Kor.10:3-5. Deur hierdie Skrifgedeeltes buite verband te misbruik maak hulle daarop aanspraak dat die Christene die grondgebiede waar voorheen afgodery bedryf is, moet wen vir Christene deur die Bose Geeste daarvan te verdryf. Sogenaamde territoriale demone moet volgens hulle verdryf word (Malan 2011). Hy (Wagner) sê dat die Satan senior demone uit die hiërargie van bose geeste stuur om lande, streke, stamme, gemeenskap, woongebiede en ander sosiale netwerke in die wêreld te beheer. Hulle belangrike doel is om te verhinder dat God in hulle gebiede verheerlik kan word. Om hulle te help, stel hulle ook demone van `n laer rang aan." (Malan 2011). 
Prash (2015) wys egter daarop dat die skrif geensins van sodanige territoriale demone melding maak nie, maar wel van "staats/koningskryksvorste" verwysende na Dan. 10:13,20.

Hierdie leer staan direk in verband met die sogenaamde "kingdom now theology" wat hom beywer om `n omgewing en atmosfeer te skep wat gunstig is vir die aardse Koningkryk van die Here Jesus. Die feit is dat die Here Jesus se Koningkryk op aarde eers gedurende die Duisendjarige Vrederyk/ Millennium (Open.20) gevestig sal word, daarom het die Here Jesus self gesê: "My koningkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koningkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koningkryk nie van hier nie." (Joh.18:36 AOV). 
Die kinders van die Here is "vreemdelinge en bywoners" (1 Pet.2:11 AOV) hier op aarde terwyl "die hele wêreld in die mag van die Bose lê" (1 Joh.15;19 AOV). Voor die Millennium is daar egter `n bepaalde tydperk voorspel waarmee daar daadwerklik rekening gehou moet word, naamlik die wegraping van die Kerk van Christus en die direk opvolgende sewejarige Antichris regering (die groot verdrukking) (2 Thes 2). Wetend of onwetend is die voorstaanders van die "kingdom now theology" besig om die weg te baan vir die Antichris se misleiding. Buite-Bybelse lerings en ervarings met die oorsprong uit die Paganisme word vermeng met Christelike waarhede om `n valse eenheid te skep.

Efes.6 verklaar die beeldspraak self, en het deurgans te make met weerstand teen versoekinge. Nêrens word melding gemaak van aanvalle wat teen die Bose geloots moet word nie. Oor 2 Kor. 10:3-5 word Wesley (2014) aangehaal:" Destroying all vain reasonings, and every high thing which exalteth itself- As a wall or rampart. Against the knowledge of God, and bringing every thought- Or, rather, faculty of mind. Into captivity to the obedience of Christ- Those evil reasonings are destroyed. The mind itself, being overcome and taken captive, lays down all authority of its own, and enirely gives itself up to perform, for the time to come, to Christ its conqueror the obedience of faith.

In Hand. 17:16 lees ons hoe dat die Apostel Paulus homself (soos dikwels) bevind het binne `n gebied waar afgodery hoogty gevier het. In plaas van om demone te verdryf en die plek te salf, verkondig hy slegs Jesus aan daardie mense! (Prash 2015).

Barry McLaughlin (2015) is een van vele verkondigers van hierdie dwaalleer. Hy word aangehaal waar hy lering gee oor die metode van hierdie "salwing" en die gepaartgaande gebed: "Father in Jesus Christ`s name I ask that You would sanctify everything within the parameters of my (our) property in that everything is made holy." "Father I dedicate this property unto You and I ask that the Holy Spirit would continually flow over and perpetually bless this property." "Father I bless this tree (shed, garage, fence posts in the name of Jesus Christ." "I  offer everything on this property up to You and put them into Your hands." "I claim every blade of grass on this property, every tree, every building etc for the Kingdom of God. Everything here is Yours to govern over." 
Is hierdie reiniging en vervulling met die Heilige Gees nie bedoel vir die kind van God in plaas van sy besittings nie? Hierdie oorgawe behoort `n kind van God te maak ten opsigte van homself? (Rom.12:1-2)

Die grootste gevaar van hierdie dwaalleer is dat dit sondeskuld projekteer na `n substansie. Terwyl die verkondigers van die leer oor bloedlynvloeke die neiging het om skuldeskuld re projekteer na iemand se voorgeslag, sal die "spiritual warfare/transformasie" verkondigers die skuld van sonde plaas om `n demoniese teenwoordigheid. Persoonlike aanspreeklikheid van die sondaar word by implikasie ontken deur hierdie leringe. Hierdie lering is `n obstruksie in die sondaars se weg na redding. Spr. 28:13 (AOV) maak dit duidelik: "Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmartigheid vind." Vir iemand om gered te kan word, het hy nodig om sy sondige toestand, sondige natuur en sondige dade te erken en te bely, m.a.w. aanspreeklikheid te aanvaar!

Ten Slotte:

Die Woord van God laat die mens in geen onsekerheid oor hoe daar met die duiwel en sy demoniese geeste om te gaan nie. Jak 4:7 (AOV): "Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug." 1 Pet. 5:8-9 (AOV): "Wees nugter en waaksaam, want julle teënstaander die duiwel, loop rond soos `n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teënstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is."

Hierdie skrywe is geensins `n poging om die indruk te laat dat hierdie studie volledig en finaal is nie, maar dit is wel `n baie beknopte samevatting van baie groter studies wat gedoen is deur gerekende apologete.

Sola Scriptura! (Die Bybel ALLEEN)

Werke aangehaal:

Afrikaanse Ou Vertaling Bybel 1953. Suid-Afrikaanse Bybel Instituut.
Barnes 2014. Albert Barne`s Notes on the Bible. E-Sword.
Mclaughlin B [2015]. Advice on blessing your home. Aanlyn artikel. Bekom by www.freedomdeliverance, 2015-06-09
Malan JS 2011. Transformasie. Aanlyn artikel. Bekom by www.bibleguide.co.za, 2015-06-09
Prash JJ [2015]. Geestelike Oorlogvoering. Aanlyn artikel. Bekom by www.moriel.org, 2015-06-09.
Wesley 2014. John Wesley`s Explan


Popular posts from this blog

Die Hoofbedekking Van Die Vrou (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)

Judas: Wat leer die Nuwe Testament vir ons oor 'n dienskneg van Jesus? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)