Wat bedoel die Skrif met ’n "gees van jaloersheid, hoerery, vreesagtigheid" ? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)
Waar sekere mense hierdie ‘gees’ wil uitdryf of bestraf, wil ander die ‘slegte gees’ egter net vervang met ‘n ‘goeie gees’. Dit mag dalk korrek klink, maar hoe Skriftuurlik is dit werklik?
Die vraag wat egter gevra moet word is:
Wat word bedoel met die term ‘gees’?
Die groot gevaar ontstaan wanneer die term ‘gees’ ooral
in die Skrif gepersonifieer word ongeag die konteks waarin dit voorkom. Beide
die Hebreeuse woord ‘rúah’ en die Griekse woord ‘pneuma’ wat vertaal is as die
woord ‘gees’ dra vele betekenisse, o.a. : ‘die Heilige Gees van God, gees van
‘n mens (as deel van die die menslike samestelling saam met die liggaam en siel),
engele, demoniese / bose geeste, wind, asem, lug, invloed, inspirasie, lewe,
karakter, gesindheid, atmosfeer, ens.
Daar is sonder enige twyfel sekere gevalle in die Skrif
waar iemand beset was deur ‘n demoniese gees. So lees ons in Lukas 4:33: “En in
die sinagoge was daar ‘n man met die gees van ‘n onreine duiwel...” Matthéüs
17:21 sê hoe daar in sulke gevalle te werk gegaan moet word, naamlik vas en
gebed.
Om egter elke geval waar iemand die een of ander probleem
ervaar soos siekte of armoede, toe te skryf aan ‘n ‘gees’ (demoniese gees), is
onskriftuurlik en misleidend. Daar word soms gesê dat ‘n persoon wat baie
gesondheidsprobleme ervaar ‘n ‘gees van krankheid’ het, verwysende na ‘n
‘demoniese gees’. Daar word dan na Lukas 13:11 en 16 verwys: “En daar was ‘n
vrou wat ‘n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was
inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie...Maar hierdie vrou wat
‘n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan! —agtien jaar
lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word
nie?”
Indien hierdie ‘gees van krankheid’ wel sou verwys na ‘n
‘demoniese gees’ is daar geen gronde om dit te veralgemeen nie. Daarom sou dit
verkeerd wees om na elkeen wat voortdurend gebuk gaan onder liggaamlike siekte
as ‘n ‘demonies-besete’ te verwys. Daar is egter geen sekerheid dat hierdie wel
‘n ‘demoniese gees’ was nie, maar dit is waarskynlik dat hierdie ‘gees van
krankheid’ eerder verwys na ‘kroniese siekte’. Dat dit net soos baie ander
teëspoede wel Satanies-gedryf is, is wel waar, maar dat dit ‘n spesifieke
‘demoon’ is wat mense siek maak, kan geensins bewys word nie.
Die feit dat die Here Jesus slegs haar genees (vers 12)
en geensins enige melding maak van enige ‘bose gees’ nie kan moontlik juis
spreek van die afwesigheid van so ‘n ‘gees’. Daarom kan hierdie teksvers ook as
volg vertaal geword het: “...’n vrou wat ‘n lewe van krankheid ...gehad het”.
Die 1912 Weymouth New Testament vertaal hierdie teksvers as volg: “...a woman was present who for eighteen years had
been a confirmed invalid…”
In Numéri 5:14 en 30 word daar gepraat van “‘n gees van
jaloersheid” wat oor ‘n man kom. Die konteks maak dit baie duidelik dat dit nie
‘n ‘bose gees’ is nie, maar wel ‘n ‘gevoel’ van jaloersheid. Hier word geensins
beskryf dat die ‘gees’ bestraf, uitgedryf, of vervang moet word nie, maar
eerder dat die vrou van daardie man se getrouheid getoets moet word. Weereens
is hier geensins ‘n ‘demoniese gees’ wat mense jaloers maak ter sprake nie.
In Hosea 4:12 en 5:4 sê die Here dat die volk Israel “’n
gees van hoerery” het. Dit is van waarde om daarop te let dat die volk Israel
ter sprake is, m.a.w. ‘n menigte van mense, en dat dit “‘n gees” is, en nie
‘geeste’ nie. Hierdie volk het ‘n hartsgesindheid van hoerery gehad,
beslis nie ‘n ‘bose gees’ nie.
In 2Timótheüs 1:7 lees ons: “Want God het ons nie ‘n gees
van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing”.
Hierdie teksvers kan geensins bewys dat sekere kinders van die Here ‘n
‘demoniese gees van vreesagtigheid’ het nie. Hier sou die woord ‘karakter’ baie
goed in pas. Vergelyk dit met Romeine 8:15, 1Korinthiërs 4:21, en Galasiërs
6:1.
Die woord ‘gees’ verwysende na ‘atmosfeer’ of ‘invloed’
word gesien in
Romeine 11:8: “Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees
van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot
vandag toe”. Dit is algemeen bekende taalgebruik om te verwys na ‘die gees wat
goed was’ by ‘n spesifieke geleentheid. Dikwels hoor mens iemand sal sê: “daar
was ‘n ongelooflike gees by die rugby byeenkoms”. Geensins word hier na ‘n
persoon (‘n engel of ‘n demoniese gees) verwys nie, maar eerder na ‘n
ingesteldheid of atmosfeer.
So kan daar nog baie voorbeelde genoem word van waar daar
verkeerdelik na ‘n ‘demoniese gees’ verwys word wanneer daar slegs van ‘n
‘gees’ gepraat word. Die rede waarom hierdie afwyking uitgewys moet word is
omdat dit groot geestelike implikasies het.
Sondeskuld word geprojekteer na ‘n ander ‘persoon’
naamlik ‘n ‘gees’ toe in plaas daarvan dat die mens sy eie hartstoestand besef
en hom daarvan bekeer. Wanneer iemand sonde van bitterheid in sy lewe
het, is dit net soveel geriefliker om te verwys na ‘die gees van bitterheid’ en
sodoende aanspreeklikheid te probeer vermy.
Lees Psalm 51 en let daarop hoe Dawid sy sondeskuld erken
en bely het (verse 3-6) voordat hy die noodsaaklikheid van ‘n “vaste gees”
(vers 12), ‘n “gewillige gees” (vers 14), en ’n “gebroke gees”
(vers 19) uitgewys het. Nie een van hierdie drie ‘geeste’ was ‘n persoon nie,
maar wel gesindhede en ‘n hartstoestand.
Kinders van die Here behoort ook te let op die ‘gees’ of
‘atmosfeer’ waarbinne hulle beweeg. ‘n Ligsinnige atmosfeer veroorsaak dikwels
sonde. ‘n Atmosfeer van geselligheid kan baie maklik wêreldsgesindheid opwek.
Net so is daar ‘geeste’ (‘n atmosfeer) by sportbyeenkomste, politieke
vergaderings, musiekkonserte, en selfs eredienste wat die kind van die Here se
verhouding met Jesus Christus bedreig.
Werke geraadpleeg:
An Intermediate Greek-English Lexicon
Expository Dictionary of Bible Words
Strong’s Hebrew and Greek Definitions
Tayer’s Greek Definitions