Wat Sê Die Bybel Oor Gelukspel? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)
Gelukspel is waar die beloning nie afhang van die prestasie, vermoë,
vaardigheid, en moeite nie, maar wel van toeval. Alhoewel baie deelnemers dit
is baie onskuldig beskou en ervaar is die verwoestende effek hiervan op
huisgesinne en samelewings onbeskryflik groot.
Dobbelary vind dikwels op ‘n baie subtiele wyse plaas, selfs binne die
kerkgemeenskap soos waar lootjies verkoop word tydens die kerkbasaar waar die
gelukkige deelnemer ‘n skaap kan wen. Dit word egter geregverdig deur die
motief van fondsinsameling vir kerkprojekte voor te hou.
Die Bybel gee egter vir ons duidelike riglyne in verband met...
Die Verkryging Van
Ons Lewensonderhoud:
- Deur Middel Van Arbeid:
Lees ook 1Thessalonicense
4:11 en Efesiërs 4:28.
By gelukspel verdien die ontvanger daarvan geensins die ‘wengeld’ nie,
maar dit is ten koste van ander mense wat geen voordeel geniet uit hulle
uitgawe nie. Alhoewel ‘dobbel’ vrywillige deelname insluit en deelnemers hulle
versoen met die moontlike verlies, is die uitkoms altyd onregverdig.
Spreuke 1:19 waarsku: “So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit
ontneem sy besitter die lewe”.
- Deur Vergenoegd Te Wees:
Paulus leer in 1Timótheüs
6:6-11: “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. Maar
as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk
wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede
wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is
‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van
die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug
van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof,
liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid”.
Lees ook Hebreërs 13:5.
Gierigheid is
afgodediens volgens Kolossense 3:5.
- Deur Middel Van Afhanklikheid Van God:
In 1Petrus 5:7 lees ons ook: “Werp al
julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle”. Die Here Jesus leer Sy
dissipels bid: “gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matthéüs 6:11).
Iemand wat egter homself begewe tot gelukspel wend homself egter tot die
sogenaamde ‘geluksgod’.
In Jesaja 65:11-12 sê die Here: “Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg
vergeet, wat ‘n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die
godin van die noodlot— Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal
buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek
gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in
my oë en verkies het wat My nie behaag nie”.
Die ‘Good News Bible’
het dit as volg vertaal: “But it will be different for you that forsake me, who
ignore Zion, my sacred hill, and worship Gad and Meni, the gods of luck and
fate”.
Lees Lukas 16:13-14.
Voorkoming:
Dobbel is verslawend.
Paulus het in 1Korinthiërs 6:12 geskryf: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig
nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie”.
Daar is sommige mense wat by geleentheid dobbel en nie daaraan verslaaf raak
nie, maar Efesiërs 4:27 waarsku uitdruklik: “en gee aan die duiwel geen plek
nie”. Dit is iets waarteen ‘n kind van God moet waak.
Lees Lukas 12:15.
Die Gevolgtrekking:
Enige deelname aan ‘n
kompetisie of spel waar ‘geluk’ of ‘toeval’ bepalend is wat betref die uitkoms
moet ten sterkste vermy word. In afhanklikheid van God alleen moet die kind van
die Here op ‘n eerbare wyse werk vir sy lewensonderhoud.