Die Vrye Wil Van Die Mens (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)



Inleiding:
 Die teenwoordigheid van die menslike wil is geensins iets wat deur enige logies-denkende mens bevraagteken behoort te word nie. Die eeue ou vraagstuk waaroor daar al baie gefilosofeer en gedebatteer is handel egter oor die ‘vryheid’ van die menslike wil.

Sommige teoloë plaas baie klem op die vryheid van die menslike wil, in so ‘n mate dat die soewereine prerogatief van die Almagtige God ingeperk word. So ‘n oorbeklemtoning van die wil van die mens, wat ten koste van God se ‘vrymag’ en Sy ‘ewige raad’ is, staan in kontras met hoe die Skrif God aan ons voorstel, en dit maak die mens totaal aangewese op homself vir sy saligheid. So ‘n selfverlossingsdrang kan slegs toegeskryf word aan die sonde van hoogmoed. Die mens is van God afhanklik vir die heil van sy onsterflike siel, en het nodig om dit te begryp.

Aan die ander kant van hierdie debat vind ons teoloë wat die vryheid van die menslike wil ontken deurdat die soewereiniteit van God beklemtoon word, wat dan ten koste van die menslike verantwoordelikheid is. Twee groot besware teen hierdie beskouing is dat dit eerstens inbreek maak op God se ander attribute soos Sy liefde en regverdigheid deurdat Hy selektief en eensydig mense sou uitkies vir die Hemel en gevolglik die res vir die Hel, en tweedens dat dit juis ‘n inbreek maak op Sy soewereine wil! As die Here deur Sy soeweine raad aan die mens ‘n vrye wil gegee het, dan beteken dit dat iemand wat slegs God se soewereiniteit beklemtoon  juis ontken dít wat hy beklemtoon!

In die Skrif word beide God se soewereiniteit én die persoonlike verantwoordelikheid van die mens gesien. Dit sou egter ‘n groot fout wees om hierdie twee waarhede in kontras teenoor mekaar te stel aangesien die verantwoordelikheid van die mens ‘n uitvloeisel is van ‘n soewereine keuse wat die Here gemaak het t.o.v. die skepping van die mens (NPK n.d.:9).  

  
  
1.     Adamiese Wil:

‘Vryheid van wil’ het die eerste geskape mens gekarakteriseer. Adam en Eva is na die Beeld van God geskape, en dít sou hulle onderskei van die diere. Die primêre onderskeid tussen die mens en dier was nie in voorkoms nie, maar wel in die karakter as ‘n vrye-morele wese. Die vermoë van die mens om ‘oorsaak- en- gevolge’ logies te beredeneer om dan ‘n vrywillige keuse te maak en dan homself te versoek met die resultaat wat die uitoefening van sy willekeurige aksie tot gevolg sou hê, is uniek tot die mens as geskape wese. Dit sou meebring dat die mens bepaalde verantwoordelikhede opgelê sou word, soos om die res van die Skepping te bestuur. 

In Génesis 1:26 lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip”.
Die menslike verantwoordelikheid in hierdie verband kan duidelik gesien word as ‘n soewereine besluit wat die Skepper gemaak het. Die mens sou verdere verantwoordelikheid en vryheid hê wat die produk van die raad van God is, maar wat nie daardeur oorheers is nie, naamlik die naamgewing van die skepsele sonder enige nomenklatuur. Génesis 2:19 sê: “En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees”. Indien die wil van die mens in hierdie verband beïnvloed is deur Goddelike inspirasie, sou dit geen sin maak nie. Waarom sou die Here vir die mens sê wat om die verskillende diere te noem en dan kyk hoe die mens die benamings vir die verkillende spesies gee? Die vryheid van die menslike wil is onteenseglik in hierdie verband die resultaat van God se prerogatief.

Die kern van die Adamiese vrye wil kan egter gesien word in die feit dat hy ‘n gesprek deur God intillektueel kon begryp waarin daar ‘n spesifieke toelaatbare vryheid hom toegesê is, maar dat sekere vryheid op legitieme vlak beperk is alhoewel dit nie op praktiese vlak ingeperk is nie. Génesis 2:16-17 beskryf dit as volg: “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe”. Hier vind ons dat die mens die vryheid gegee is om na willekeur te eet van al die bome met die uitsondering van een spesifieke boom. Tog het die mens die vryheid gehad om wederregtelik van daardie spesifieke boom te eet, maar dan sou hy hom moes versoen met die gevolge daarvan. 
Dunning (1988) stel dit as volg: “The forbidden fruit of the Genesis account symbolizes the point of testing. No genuine relation is possible unless it is freely chosen, and apart from the possibility of violating it, it cannot be affirmed”.
 Die feit dat die mens inderdaad van dié boom geëet het bewys die vryheid wat hy gehad het rakende sy wil. Om die Sondeval te inkorporeer by die soewereine wil van God sou hierdie heilige God verkleineer tot ‘n wispelturige en onstabiele Wese wat die mens verbied om iets te doen wat Hy egter bepaal het die mens gaan doen. Die Bybel ken nie só ‘n God nie!
Die Apostel Paulus verwys terug na die Sondeval wanneer hy skryf: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het...” (Romeine 5:12). Om God die Outeur van die Sondeval te maak sou gevolglik Hom ‘n moordenaar maak aangesien die dood die direkte gevolg van die Sondeval was. Die Here God het inteendeel die mens as ‘n “lewende siel” geskape (1Korinthiërs 15:45) wat ‘n eie wil gehad het en waarmee hy vrye keuses kon maak en uitoefen. Ongelukkig het die mens hierdie vrye wil verkeerd gebruik met rampspoedige gevolge. Hiermee stem John Calvin (2005:158) saam wanneer hy skryf: “Adam, therefore, might have stood if he chose, since it was only by his own will that he fell... Still he had a free choice of good and evil”.

Dit moet egter duidelik gemaak word dat dit geensins die mens as ‘n selfstandige wese klassifiseer nie aangesien die kognetiewe en intellektuele vermoë van die mens, maar baie spesifiek die geestelike stand waarin Adam geskape is (in ‘n lewende verhouding met God) wat sy vrye wil in ‘n positiewe opsig sou beïnvloed, van God afkomstig was.


 2.     Verdorwe Wil:

Die ‘vrye wil’ wat die mens in die Tuin van Eden gehad het, het hy egter verloor deur die Sondeval. Van daardie selfde oomblik af sou geen mens meer vrylik kon kies of hy God wil gehoorsaam of nie. Paulus maak dit dan ook duidelik dat ons “dood was” en “van nature kinders van die toorn” (Efesiërs 2:1-3). Vir die Jode het die Here Jesus gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Johannes 8:44).
Hierdie teksverse is in harmonie met die res van die Skrif wat dit duidelik maak dat die mens se wil nie vry is nie, maar wel beheer word deur sy sondige natuur waarin hy gebore is as gevolg van die Sondeval. 
Die ‘Arminiaanse Teologie’ leer verkeerdelik dat die mens in sy sondige toestand steeds ‘n vrye wil het om in daardie toestand te bly óf om daaruit te kom. So verwoord Slick (2017:1) in ‘Five Points of Arminianism’ hierdie siening: “Human Free Will--This states that though man is fallen, he is not incapacitated by the sinful nature and can freely choose God. His will is not restricted and enslaved by his sinful nature”. Hierdie beskouing is totaal onskriftuurlik! Die Here Jesus het self dit kategories gestel: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). Die sondige natuur van die mens maak dat hy wíl sonde doen.
Die Here Jesus sê verder in Matthéüs 7:17-18: “So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie”. In hoofstuk 12:33 sê Hy verder: “Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken”. Dit is opvallend dat die Here Jesus die woord “vrugte” gebruik en nie “werke” nie. Werke kan geforseer wees, maar vrug is die spontane resultaat van ‘n plant se aard en natuur. Die mens in sy verlore sondige toestand het in ‘n sekere sin wel ‘n vrye wil waarmee hy sy keuses kan uitoefen, maar steeds is dit baie beperk. 

Die artikel ‘Het Die Mens Werklik ‘n Vrye Wil?’(2017)  word as volg aangehaal: “Dit beteken egter nie dat die mens enigiets wat hom plesier kan doen nie. Ons keuses word beperk tot binne die grense van ons natuur. ‘n Mens kan kies om oor ‘n brug te stap of nie; wat hy nie kan kies nie, is om oor die brug te vlieg, want sy natuur laat hom dit nie toe nie. ‘n Mens kan nie kies om homself regverdig te maak nie – sy sondige natuur weerhou hom daarvan, om sy skuld te kanselleer (Rom 3:23).
Dus is vrye wil beperk deur die mens se natuur”. Binne die grense wat hierdie sondige natuur stel, het die mens wel ‘n ‘vrye wil’ waarin hy doelbewustelik God se wette oortree. Hy maak dus die keuses t.o.v. die sondes wat hy pleeg, maar hy besit nie die vermoë om ‘n wilsbesluit te maak om hom tot God te bekeer nie. 

Die Arminiaanse Teologie se konsep van ‘n absolute ‘vrye wil’ is gevolglik teologies ongegrond, wetenskaplik onrealisties, filosofies ondeurdag en onlogies, en prakties onuitvoerbaar. Die Calvinisme maak dan die gevolgtrekking dat die mens geensins vanuit sy sondige toestand sy toevlug na Jesus Christus neem alvorens hy nie deur God gewederbaar is nie. So haal Boettner (1974:61) die ‘Westminster Confession’ as volg aan: “Man, by his fall into a state of sin, hath wholly lost all ability of will to any spiritual good accompanying salvation; so as a natural man, being altogether averse from good, and dead in sin, is not able, by his own strength, to convert himself, or to prepare himself thereunto”.
St. Augustines was baie duidelik daaroor dat die mens geen vermoë het om na God te wil kom nie, behalwe as God hom eers “innerlik bevry” (Jonker 1989:21). Oók hierdie beskouing maak geen sin wanneer God die mens aansê om hom te bekeer (imperatief) óf die gevolge van sy versuim te aanvaar. In Handelinge 17:30-31 lees ons: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel...” Die feit dat die mens die gevolge sal dra van die keuse wat hy gemaak het, maar tog geen vryheid van keuse in hierdie opsig gehad het nie, pas nie by die karakter van die regverdige God van die Bybel nie.
 Hierop redeneer Augustines: “Hoewel die mens nog in ‘n formele sin wilsvryheid het, sodat hy verantwoordelik gehou kan word vir sy sonde en verlorenheid, word sy wil en begeertes heeltemal deur sonde beheers” (Jonker 1989:21). Alhoewel daar ‘n magdom Skrifgedeeltes is wat die persoonlike verantwoordelikheid van die mens eksplisiet uitspel, sal slegs twee teksverse in hierdie verband aangehaal word, naamlik Johannes 1:12: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo...”, en Hebreërs 2:3: “hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam...” Hieruit is dit duidelik dat die mens wel ‘n vrywillige keuse het om Jesus Christus aan te neem of nie.

Die rol wat die mens se wil vervul in sy bekering kom duidelik na vore in Openbaring 22:17: “...en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet”. Hierop reageer die Calvinis deur te sê dat God vir die sondaar wat Hy gewederbaar het die wil gee om te wil. Hierdie verweer staan in direkte kontras met dit wat beide die Ou-en-Nuwe Testament leer. In Esegiël 33:11 sê die Here: “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?”. In Mattéüs 23:37 roep die Here Jesus uit: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” In Johannes 5:40 sê die Here Jesus: “En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie”. Dit maak nie sin nie dat die Here iemand sou verwyt omdat hy nie wil nie, wetende dat Hý vir die mens die wil moet gee om te wil. Dit los ons met die vraag ‘Hoe kan die mens dan tot bekering kom as sy wil nie absoluut vry is nie terwyl hy terselfdertyd ‘n bepaalde verantwoordelikheid het rakende sy bekering?’ 

John Wesley verduidelik dit met twee woorde, naamlik: “Prevenient Grace”.
 Die ‘vrye wil’ van die mens word gereaktiveer tydens ‘voorafgaande genade’ sodat die mens wel kan kies of hy positief gaan reageer op die roepstem van die Heilige Gees tot bekering, of nie. Die regverdige God van die Bybel gee aan almal die een-of-ander tyd hierdie vryheid van wil. Titus 2:11 maak dit duidelik: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn...” Wanneer die mens dan positief reageer, dan skenk God die genade van vergifnis van sonde. 1Petrus 1:3 sê: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop...”  

God is absoluut soewerein soos ons lees in Romeine 9:18: “So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil”. God soewereine raad mag nie bevraagteken word nie. As Hy iemand barmhartig is, dan kan Hy dit doen want Hy alleen is God. Net so, indien Hy iemand verhard, dan mag Hy dit doen omdat Hy alleen God lofwaardig tot in ewigheid is! Wanneer Hy egter aan die mens ‘n ‘wil’ gee waarmee hy in staat gestel word om God te kies of nie, dan mag Hy dit doen want Hy alleen is God. Dit doen Hy inderdaad soos wat dit beskryf word in Romeine 10:9-13: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”.



3.     Vernude Wil:

Wanneer die mens gewederbaar is, is sy wil steeds nie absoluut vry nie, maar wel vry om God te kan dien. In Esegiël 11:19-20 lees ons: “En Ek sal hulle een hart gee, en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen”. En dan in Esegiël 36:26-27 staan daar geskrywe: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen”. 

Die wil van die mens is egter nooit neuntraal nie, maar word beïnvloed deur verskeie interne en eksterne faktore. So word die wil van die mens gelei deur sy emosies, voorkeure / afkeure, logika, ens. Die wil van die kind van God word hoofsaaklik gelei deur sy hart. Daarom sê Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe”. Die kind van die Here wíl God gehoorsaam en dien omdat dit die resultaat van sy hartstoestand is, maar dan word die vryheid van hierdie wil tog gesien in die bepaalde verantwoordelikheid wat die mens in hierdie verband het, naamlik om sy hart te bewaar. Die kind van die Here kan kies om sy hart te bewaar, of om die bewaring van sy hart te verwaarloos. Jonathan Edwards (2017:1) het gesê: “The Determination of the Will, supposes an effect, which must have a cause. If the Will be determined, there is a Determiner”. Beide die genade van die Here om Sy kind te laat wíl, sowel as die verantwoordelikheid van die mens om sy wil te gebruik om God te gehoorsaam is duidelik. 
Paulus skryf in Filippense 2:12-13: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae”. “Werk julle eie heil uit...” is imperatief, terwyl “dit is God wat in julle werk om te wil” indikatief is. Die kind van die Here het gevolglik die vryheid om dit wat God in hom werk (naamlik om te wíl) uit te werk en te praktiseer, of om dit te verwaarloos.

Alhoewel hierdie studie fokus op die vrye wil van die mens, is dit onvermydelik om wel die relevante onderwerp van die ‘weerstaanbare genade’ van die Here aan te raak. Nadat Paulus getuig het hoedat die genade van die Here nie tevergeefs aan hom was nie (1Korinthiërs 15:10), vermaan hy die gemeente dat hulle nie die genade van die Here tevergeefs moet ontvang nie (2Korinthiërs 6:1). Die genade van die Here aan Sy kind om vrugbaar te wees en te volhard is ongetwyfeld die bron van die wil om dit te doen, maar hierdie genade is nie afdwingbaar nie. Hierdie genade kan aktief óf pasief weerstaan word. Die Here God gee egter die instaatstelling, maar die mens se onderwerping moet vrywilliglik wees. 

In 1Korinthiërs 10:13 is die volgende belofte opgeteken: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra”. Die woord “kan” is die sleutel tot die verstaan van hierdie teksvers. Die woord ‘dynamai’ (Grieks) dra die betekenis van ‘instaatstelling’ (Renn 2005:5).  Dit is dieselfde woord wat gebruik word in Efesiërs 6:11: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel”. Die Skrif sowel as die praktyk leer dit duidelik dat die weergeborenes nie noodwendig altyd staande bly nie, maar wel die moontlikheid het om te sondig (1Johannes 2:1). Dit is gevolglik duidelik dat die genade van die Here wél weerstaan kan word deur Sy kind, wat dus ‘n verantwoordelikheid plaas op die kind van God. Dit is in hierdie opsig wat daar na die ‘vrye wil’ van die mens verwys word.

Die ‘vrye wil’ (nie ‘absolute soewereine wil’ nie) kan verder baie duidelik gesien word in die menigte beloftes van beloning vir die goeie werke wat God se kinders op aarde verrig het. In Efesiërs 6:8 lees ons: “omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman”. Openbaring 22:12 bevestig dit: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees”. Die maatstaf van beloning sal ons werke wees. Alhoewel die verlore sondaar wat sy toevlug na Jesus neem gered word uit genade alleen, sal die beloning gegee word op grond van verdienste alleen. Dit word egter beklemtoon dat die mens die genadiglike instaatstelling van die Here ontvang vir hierdie goeie werke, en daarom moet aan God al die eer gegee word vir die goeie wat ons wel doen. Die feit dat die Here egter iemand sal vergeld ‘soos sy werk sal wees’, maak dit duidelik dat die mens wel’n ‘vrye wil’ het waarmee daar gekies moet word om óf te werk, óf nie.  



Ten Slotte:

Uit dit wat in hierdie studie na vore gekom het is dit duidelik dat God wat absoluut soewerein is, en dat die ‘vrye wil van die mens’ (beide die ongeredde én geredde soos verduidelik is) die resultaat is van ‘n soeweine wilsbesluit wat God geneem het deur aan die mens ‘vryheid van keuse’ toe te vertrou.

Tereg en met goeie rede het John Calvin die gevare van beide die ‘Arminianisme’ én ‘Calvinisme’ uitgelig toe hy geskryf het oor “Sloth and Pride” (Calvin 2005:222). Dit is inderdaad so dat iemand wat die ‘vrye wil van die mens’ oorbeklemtoon baie maklik hoogmoedig kan raak en sy afhanklikheid van God vergeet. Aan die ander kant loop die persoon wat die ‘vrye wil van die mens’ in geheel ontken die gevaar om passief te raak in sy geestelike lewe. ‘n Kind van die Here wat Hom nie vrywilliglik verheerlik deur sy keuses wat hy maak en uitoefen nie, bring geen eer aan God nie. Die mens moet sy verantwoordelikheid besef en nakom, maar nederig afhanklik bly van die Here.

Die slotsom is:

Soek die Here, en loof Hom dan omdat Hy Hom laat vind het!
Doen jý alles wat God jou beveel, en gee dan aan God die eer vir Sy instaatstelling!
Gehoorsaam alles wat die Heilige Gees op jou hart lê, en dank die Here dan vir Sy genade!
Volhard op God se pad, en aanbid Hom wat jou staande hou!
Werk nou met die oog op die beloning by die Regterstoel van Christus, en lê dan eendag die krone aan die voete van die Here Jesus neer!
Soli Deo Gloria! – Aan God al die eer!
Werke Aangehaal:

Afrikaanse Bybel 1953. Suid Afrikaanse Bybelgenootskap.
Boettner L 1974. The Reformed Doctrine of Predestination. Pennsylvania, The Presbyterian and
    Reformed Publishing Company.
Calvin J 2005. Institutes of the Christian Religion. Gainesville Florida, Bridge-Logos Publishers.
Dunning HR 1988. Grace, Faith, and Holiness: A Wesleyan Systematic Theology. Kansas City
    USA, Beacon Hill Press.
Edwards J. Jonathan Edwards on Free Will. Aanlyn artikel. Besoek by
‘Het die mens werklik ‘n vrye wil?’ [2017]. Aanlyn artikel. Besoek by
Jonker WD 1989. Uit Vrye Guns Alleen. Pretoria Suid Afrika, NG Kerkboekhandel.
Nuwe Protestante Kweeksool. Die Uitverkiesing.
Renn SD 2005. Expository Dictionary of Bible Words. Peabody Massachusetts USA,
        Hendrickson Publishers Inc.
Slick M [2017]. Five Points of Arminianism. Aanlyn artikel. Besoek b



Popular posts from this blog

Salwing Met Olie: `n Bybelse Gebruik? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)

Die Hoofbedekking Van Die Vrou (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)

Judas: Wat leer die Nuwe Testament vir ons oor 'n dienskneg van Jesus? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)