Intersessie Gebed (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)



‘Intersessie’ is ‘n term wat gebruik word in plaas van ‘voorbidding’, maar het basies dieselfde betekenis. Truesdale en Lyons (1986:147) omskryf dit as volg: “Intercession is what one does to present the needs of one person to another. Intercession is the work of a mediator.”  


1.    Voorbeelde van Intersessie:

a.      Die Here Jesus:

Jesaja 53:12 Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.

Hebreërs 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.

Romeine 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

Lees ook die Here Jesus se gebed in Johannes 17

b.     Die Heilige Gees:

Romeine 8:26-27 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

c.      Abraham:  
Gen 18:23-25


d.     Moses:

Exodus 32:10-11 “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak. Maar Moses het die HERE sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o HERE, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?“

Numéri 21:7 En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.

e.      Samuel:

1Samuel 12:23 Ook wat my betref, dit is ver van my dat ek teen die HERE sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid; maar ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig.

f.       Job:

Job 42:8  Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring ‘n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid; want hom alleen sal Ek in guns aanneem, sodat Ek aan julle nie die dwaasheid laat vergelde nie; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.


2.    Elemente van Intersessie:

In Daniël 9 kry ons ‘n tipiese voorbeeld van ‘intersessie gebed’ wat al die elemente bevat:

a.      Ywer:

Daniël 9:3 En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.

b.     Verootmoediging:

Daniël 9:4-5 En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.

c.      Vereenselwiging:

Daniël 9:5 ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.

d.     Afhanklikheid:

Daniël 9:18 Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.


3.    Objekte van Intersessie:

a.      Evangelieverkondiging en redding van siele:

Romeine 10:1  Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.

Filippense 1:19 Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek

2Thessalonicense 3:1 Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle

b.     God se heiligmakende werk in Sy kinders:

Kolossense 1:9 Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig

2Thessalonicense 1:11 Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak

2Korinthiërs 13:9 En hierom bid ons ook, naamlik om julle volmaking.

c.      Die Regering:

1Timótheüs 2:1-2 In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.

d.     Vrede in Jerusalem:

Psalm 122:6 Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!

e.      Genesing van siekes:

Jakobus 5:14  Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.

f.       Genade vir jou vyande:

Matthéüs 5:44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg

4.    Resultaat van Intersessie:

a.      Redding:

1Johannes 5:16  As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.

b.     Beskerming:

Handelinge 12:5,7 So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan...
En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.

c.       Genesing:

Jakobus 5:16 Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.



Gevolgtrekking:

Elke kind van God behoort die voorbeeld van die Here Jesus na te volg deur ook as ‘intersessor’ / ‘voorbidder’ op te tree. Dit moet egter gedoen word sonder om ‘n aanmatigende gesindheid te openbaar. 1Timótheüs 2:5 sê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus”.

Ook moet die resultate van voorbidding in geloof verwag word sonder om God se soewereiniteit óf enige ander attribuut te probeer ondermyn. So sál die Heilige Gees bemoeienis maak met ‘n persoon vir wie se redding daar gebid word, en die Here kan selfs baie hard met so ‘n persoon praat, maar die Here red nie iemand teen sy wil nie.

Alhoewel die ‘voorbidder’ met passie vir iemand anders moet bid, moet die voorbidder hom/haarself altyd aan God onderwerp. ‘Intersessie gebed’ is dus nie om as ‘regsverteenwoordiger’ die belange van ‘n slagoffer te probeer beskerm teen ‘n vyandige God nie. Dit is egter om in gehoorsaamheid saam met God te werk sodat GodSy doel in die ander persoon se lewe kan bereik.

God is almagtig en selfstandig, en Hy kan enige iets doen wat Hy wil sonder dat die mens enigsins betrokke is. Die rede waarom egter gekies het om soms slegs in antwoord op die mens se voorbidding te werk is ‘n misterie waarop ons eers eendag in die Hemel ‘n antwoord op sal kry. Die beantwoording op ‘intersessie gebed’ is egter iets wat God verheerlik.

Popular posts from this blog

Salwing Met Olie: `n Bybelse Gebruik? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)

Die Hoofbedekking Van Die Vrou (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)

Judas: Wat leer die Nuwe Testament vir ons oor 'n dienskneg van Jesus? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)