Die Verharding Van Israel- Maak God Die Mens Ongehoorsaam? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)
Romeine 11:7: “Wat dan?
Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit
verkry en die ander is verhard”.
Lees ook Romeine 9:15-16 en Romeine 11:25-32.
Bogenoemde teksvers is
een van verskeie teksverse wat dikwels deur die Calvinistiese skool gebruik
word om die ‘Onvoorwaardelike Uitverkiesingsleer’ te probeer bewys. Dit is
egter van groot belang om daarop te let dat Romeine 9-11 oor die historiese en
dispensasionele handeling van God met die volk Israel. Dit is nie ‘n
verduideliking van God se handeling met individue rakende die saligheid van hul
siele nie.
God se voorkeur-wil is
dat alle mense gered sal word (2Petrus 3:9, 1Timótheüs 2:3-4) en daarom skenk
Hy aan almal die genade (voorafgaande genade) om gered te kán word (Titus
2:11). Die ras of etnisiteit van ‘n individu is egter geensins ‘n faktor
wanneer redding ter sprake is nie, en dít kan baie duidelik gesien word in
Romeine 1:16, 2:11, 3:22, asook Kolossense 3:11.
Die Here God het egter
‘n soewereine wilsbesluit geneem om die Evangelie op ‘n besondere wyse aan die
volk Israel toe te vertrou, waar húlle die eerstes sou wees aan wie Hy Homself
sou openbaar aangesien húlle die skrywers en draers van God se Woord was en Hy
die Messias deur húlle aan die wêreld sou gee.
So lees ons in Matthéüs
15:24 dat Jesus sê: “Ek is net gestuur na die verlore
skape van die huis
van Israel.” Tog weet ons dat Hy nie die Kananése vrou
aan wie Hy dít gesê het oor die hoof gesien het nie (vers 28). Hierdie was
egter “gunstige tyd” waarin God Israel besoek het (Lukas 19:44). Romeine 1:20
maak dit dan ook duidelik dat die heidene wat God nie dien nie geen verontskuldiging
het nie omdat hulle wel ‘n openbaring van God ontvang.
In Romeine 9-11 word die verharding van Israel egter baie
duidelik beskryf. Om dít te verstaan sal dit nodig wees om op die volgende te
let:
Die Betekenis van ‘Verharding’:
Die Griekse woord “pōroō” wat met ‘verhard’
vertaal word het die volgende betekenis:
a.
om die krag om te
begryp te verloor;
b.
'n onwilligheid om
iets wat maklik verstaanbaar is, is te aanvaar;
c.
om die hart se vermoë
om deur geestelike dinge geraak te word, weg te neem.
Dit kan gesien word in 2Korinthiërs 3:14 waar die Apostel
Paulus skryf: “Maar
hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die
lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word,
die bedekking wat in Christus vernietig word.”
Die Oorsaak van ‘Verharding’:
Alhoewel die volk Israel ter sprake is in bogenoemde
Skrifgedeeltes, vind ons die rede waarom God ‘n individu se hart verhard in
Exodus 8:15, naamlik waar Farao sy hart verhard het en dat Gód Farao se hart
verhard het in Exodus 9:12. Die rede vir
Israel se verharding word gevind in Romeine 10:3: “Want omdat hulle die
geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle
hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie”. Die verwerping van
Christus lei altyd tot verharding. Die heidene wat God verwerp word ook verhard
soos gelees in Romeine 1:21 “omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie
as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul
oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”
Die Resultaat van Israel se Verharding:
Deurdat Israel as volk Christus verwerp het, het die
genade dispensasie vir die heidene aangebreek. In Handelinge 13:46 lees ons: “Maar
Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die
woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter
verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot
die heidene”. Ook Romeine 11:11 bevestig dit: “Maar deur hulle val het die saligheid
tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.
Gevolgtrekking:
Die Here het in die Ou
Testament gefokus op Israel, maar as volk het hulle God nie heelhartig gedien
nie en Christus toe verwerp. Daarom het die Here in die Nuwe Testament baie
aandag aan die heidene gegee, wat Hom egter ook verwerp (met die uitsondering
van enkelinge). So verhard die heidene hul harte wat daartoe lei dat God ook
die heidene sal verhard (2Thessalonicense 2:11-12) wanneer God weer fokus op
Israel tydens die komende verdrukking.