Agab: Karakterstudie (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)
1 Konings 16:29-22:54 en ook 2 Kronieke 18:1-34.
Agab was die sewende koning van Israel (nadat Israel van
Juda weggebreek het). Hy het 22 jaar lank regeer vanaf 876vC tot 854vC. Sy naam
beteken ‘Broer van Vader’ wat waarskynlik die dieper betekenis het dat Agab God
se broer is. So ‘n aanspraak wat Omri (wat self goddeloos gelewe het) sou maak
deur sy seun só te noem is egter teenstrydig met die beskrywing wat die Skrif
van Agab gee. Sy lewe was gekenmerk deur uiterste vorm van goddeloosheid. Daar
kan egter waardevolle lesse geleer word deur die bestudering van die lewe en
karakter van Agab.
1.
Sy Sondes:
Ø Vermenging met Heidense Nasies:
Ten spyte van die verbod
wat die Here geplaas het op die huwelike met heidense vroue (Deuteronómium 7:3-4) en die waarskuwing teen afgodery wat
dit tot gevolg het, het Agab steeds die goddelose Isébel as vrou
geneem (1Konings 16:31).
Ø Afgodery:
Afgodery was die noodwendige gevolg van sy huwelik met Isébel. 1Konings
16:31-33 beskryf drie stappe in sy afgodery, naamlik ‘dien’, ‘buig’, en
‘offer’.
Ø ‘Ad Hominen Aanslag’:
Agab weier om te buig onder God se gesag, en daarom mik hy op die man. Hy
noem Elía “beroerder van Israel” (1Konings 18:17) en “my vyand” (1Konings 21:20).
Hy “haat” vir Miga (1Konings 22:8) en blameer hóm vir die inhoud van sy
boodskap (ook vers 18). Daarom straf hy Miga om sy veilige terugkeer te probeer
verseker (1Konings 22:26-27).
Ø Nalatigheid:
Agab het as koning die verantwoordelikheid gehad om die volk Israel in
heiligheid te administreer, maar hy laat na om leiding te neem en raadpleeg sy
vrou (1Konings 19:1). Ook wanneer sy vrou leiding oorneem
om aan hom Nabot se wingerd te gee, neem hy nie standpunt in nie (1Konings
21:7).
Ø Gierigheid:
Die Here het in Levítikus 25:23 dit baie duidelik gemaak dat niemand hulle
grond mag verkoop nie, maar tog begeer Agab Nabot se wingerd en probeer hom
ompraat om dit aan hom te verkoop (1Konings 21:2).
Ø Eiesinnigheid:
In plaas daarvan om Bénhadad dood te maak sluit Agab ‘n verbond met hom, en
was hierdie daad ‘n manifestasie van sy beterweterige houding wat hy teenoor
God gehad het (1Konings 20:34).
Ø Bitterheid:
In beide 1Konings 20:43 en 21:4 word sy toorn en bitterheid vermeld wanneer
hierdie egosentriese Agab nie sy sin kry nie en hy in sy eer gekrenk word.
Ø Moord en Diefstal:
Sy passiwiteit ten spyte
van die sameswering wat sy vrou geïnisieer het om Nabot te vermoor het hom
aandadig daaraan gemaak, terwyl sy aktiewe toetrede om Nabot se wingerd in
besit te gaan neem hom ook aanspreeklik gemaak het vir diefstal (1Konings 21:16).
Ø Valsheid:
1Konings 22:6 beskryf hoedat hy die Here slegs wil gebruik om ‘n ‘stempel’
op sy voorneme te plaas. Hy raadpleeg nie die profete van die Here om God se
wil te verneem nie, maar baie selektief raadpleeg hy die profete net om sy eie
wil te laat geld.
Ø Haat:
Agab maak geen geheim daarvan dat hy die profeet Miga “haat” nie (1Konings
22:8).
Ø Ongehoorsaamheid:
Hy verontagsaam egter
God se woord en voer sy voorneme uit (1Konings 22:29).
Ø Minagting van God:
Agab onderskat God en
dink dat as hy homself vermom God se woord nie vervul sal word nie (1Konings 22:30).
Ø Onversetlikheid:
In plaas daarvan om
homself voor God te verootmoedig toe hy gewond is, volhard hy in sy waansin (2Kronieke 18:34).
2. Sy Voorregte en Geleenthede:
Ø Vrede:
1Konings 22:1 beskryf ‘n tydperk waarin daar geen oorlog was nie. Agab het hier die
geleentheid gehad om die aangesig van die Here te soek.
Ø Kennis van die Waarheid:
Hy het wel die onderskeidingsvermoë gehad tussen die
waarheid en die leuen. Hy het goed geweet wat God se woord was (1Konings 22:16).
3.
God se Openbaring aan Hom:
Ø God se getrouheid aan Sy woord:
Agab het gesien hoedat die woord van die Here vervul word
aan Hiël met die opbou van Jérigo (1Konings 16:34).
Ø God se begeerte om reën te gee:
Die Here wou graag Israel seën (1Konings 18:1), en Elía word na Agab gestuur om hom dit mee te
deel. God se genade word hier aan Agab getoon.
Ø Bonatuurlike Verskynsel in antwoord op gebed:
Agab was ‘n ooggetuie van die gebeure op Karmel en het
met sy eie oë die vuur van die Here uit die Hemel sien val (1Konings 18:38).
Ø Wonderwerk t.o.v. skielike reën:
1Konings 18:43 en 45 beskryf hoedat die Here se woord skielik in vervulling gaan en
dit begin reën, iets waarop daar geen vooruitsig was nie.
Ø God se genadige ingryping en verlossing:
Agab het eerstehands die verlossing van die Here uit die
hand van sy vyand ervaar (1Konings 20:13).
Ø Vooraf waarskuwing:
Hy was baie duidelik vooraf ingelig oor die toekomende
aanslag deur die Arameërs (1Konings 20:22) en hy is aangesê om voorbereid te wees.
Ø Profete:
1Konings 20:42 asook 21:18 maak melding van hoe die Here Sy profete na Agab gestuur
het om Sy woord aan hom te bring.
Ø God se genade, stel vonnis uit:
Toe hy hom verootmoedig het die Here afgesien van Sy voorneme
en nog genadetyd aan Agab gegee (1Konings 21:29).
Ø Goddelike waarskuwing:
Agab was baie duidelik gewaarsku dat sy voorgenome aksies
rampspoedige gevolge vir hom sou inhou. Hy was verbaal ingelig dat dit sy lewe
sou kos (1Konings 22:17).
Ø God bring die leuen aan die lig:
1Konings 22:20-23 beskryf hoedat Miga aan Agab die misleiding van profete uitwys.
4.
Sy Goeie Dade:
Ø Gehoorsaamheid:
1Konings 18:20 en 20:15-16 maak melding van sy gehoorsaamheid aan die woord van God
deur die profete.
Ø Verootmoediging:
In 1Konings 21:27 het hy homself verootmoedig toe hy die onheil verneem wat God oor
hom besluit het.
Ø Erken God:
Alhoewel Agab baie afgodery toegelaat en beoefen het, het
hy nie heeltemal sy rug op God gedraai nie. Hy gee erkenning aan God deur sy
kinders se name (1Konings 22:40, 2Konings 3:1, en 2Konings 8:16-18):
‘Joram’ beteken “Die Here is hoog”;
‘Ahásia’ dra die betekenis van “Die Here hou/onderhou”;
‘Atália’ het die
twee-ledige betekenis van “Die Here is sterk /
beproef
deur die Here”.
5.
Sy Prestasie:
1Konings 22:39 beskryf die stede en ‘ivoorhuis’ wat hy gebou het. Argeologiese
opgrawings deur Havard Universiteit het gelei tot die vonds wat insluit
oorblyfsels van die ivoorpaleis en kleitablette wat Agab se prestasies
bevestig.
6.
Sy Swakhede:
Ø Leierskap ontbreek:
Hy het geen leierskap in sy eie huis getoon nie (1Konings 19:1-2).
Ø Lafhartigheid:
Hy het geen durf gehad om op te staan teen die arrogansie
van Bénhadad nie, en het geswig onder die aanspraak wat daar op sy besittings
en vroue gemaak is. Hy het nie eers die durf gehad om sy eie huis te beskerm
nie, en nog minder die volk van God (1Konings 20:4-9).
7.
Tragedies toe te skryf aan Sy Sondes:
Ø Droogte:
Die hele land het gebuk gegaan onder droogte en
hongersnood as gevolg van sy sondes (1Konings 17:1). Selfs die natuur het gely onder sy goddeloosheid!
Ø Dood van Nabot:
Die voortydige dood van Nabot het ongetwyfeld sy
oorsprong in Nabot se gierigheid (1Konings 21:13).
Ø Goddelose nageslag:
Goddeloosheid was ongetwyfeld Agab se nalatenskap aan sy
kinders en selfs aangetroude familie! (1Konings 22:53-54, en 2Konings 8:26-28).
Ø Uitwissing van sy nageslag:
1Konings 21:21 en 2Konings 10:7,10 beskryf hoedat Agab se hele nageslag uitgewis is
as gevolg van sy sonde waarin hulle ook volhard het. Dink aan Exodus 20:5!
8.
Bybelse Beskrywing van Agab:
1Konings 16:30: “En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë
van die HERE, meer as al sy voorgangers”.
1Konings 16:33: “Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer
gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel,
sy voorgangers”.
1Konings 21:20: “En hy antwoord: Ek het u gekry, omdat u uself verkoop
het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE!”
1Konings 21:25: “Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het
om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom
verlei het”.
Gevolgtrekking:
God se wette is gegee om die mens te beskerm, en die
minagtigting daarvan kom die mens duur te staan. Sonde bring meer sondes voort.
God is genadig en bemoei Hom met die mens met die doel om die mens tot sy sinne
te bring, maar die mens het ‘n vrye wil waarmee hy self sy keuses uitoefen. Wanneer
die mens homself verootmoedig en bekeer is die genade van die Here verder daar
om die mens nog ‘n kans te gee, maar elke mens se genadetyd kan uitloop. Die
gevolge van ‘n mens se sondes het ‘n effek ook op ander mense, veral die
nageslag.