Die Hoofbedekking Van Die Vrou (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)



Etlike jare gelede was dit algemeen gebruiklik vir vroue in Suid-Afrika om ‘n hoed te dra wanneer eredienste bygewoon is. Stelselmatig het dit egter in onbruik verval met die uitsondering van enkele Kerk denominasies. Terwyl sommige mense die standpunt inneem dat die rede hiervoor toegeskryf kan word aan die algemene verval in die Christendom, is daar ook diegene wat dit koppel aan bevryding van die bande van tradisie. 

Dat die verskynsel van die dra van hoofbedekking deur vroue in die Westerse beskawing meer as slegs ‘n religieuse motief gehad het kan gesien word in die destydse modegier. Dit is van waarde om ook daarop te let dat dit van ‘n vrou verwag is om ‘n hoed te dra in die hof, parlement, ens. Selfs by perdewedrenne (desnieteenstaande die sondige konnotasie) was hoede ‘n algemene verskynsel. ‘n Onaanvegbare stelling kan ook gemaak word dat hierdie gebruik binne die Christelike kerk nie gevrywaar was van wanpraktyke nie. Dikwels wanneer hierdie onderwerp geopper word, word daar verwys na die ongeskrewe kompetisies wat daar tussen vroue geheers het rakende die elegansie, styl en duursaamheid van hul hoede. Dít bots lynreg met die gees van die Bybelse leer van nederigheid. 

Die vraag wat egter van belang is vir die weergebore kind van God is wat die Skrif hieroor te sê het. Is die instruksies soos gegee deur die Apostel Paulus universeel afdwingbaar, of was dit slegs gegee vir die vroue in Korinthe?

Die konteks van die geadresseerde is van groot belang. Korinthe was ‘n handelstad waarin daar mense vanuit verskillende volke bymekaar was. Die Apostel Paulus bedien aanvanklik die Jode in daardie stad, maar wend hom dan ook na die heidene. Joodse en Griekse vroue het hul hoofde bedek ooreenkomstig hulle kultuur, en versuim daartoe het ‘n boodskap uitgestuur van publieke verset teen die gesag wat hul mans oor hulle gehad het (Barnes 2014) . Paganistiese priesteresse het egter nie hulle hoofde bedek nie, en het self hulle hare kort gesny. 
Prostiute het dieselfde gedoen (McGee 1983:50). Daar was selfs prostitute in die Paganistiese tempels by wie die dra van kort hare sonder enige hoofbedekking kenmerkend was (Maartens 2017). 

Van Wyk (1980:14) skryf: “Die tempel van Afrodite, die godin van die liefde, het hoog bokant die stad Korinthe uitgetroon. In hierdie tempel is duisend prostituut priesteresse aangehou, waar die seksuele lewe en ontug as godsdienstige kultus beoefen is”.  Die versuim van ‘n vrou om die hoof te bedek is geassosieer met bogenoemde tipe vroue. In verse 14-15 sê hy: “Of leer ook die natuur self julle nie dat as ‘n man lang hare dra, dit vir hom ‘n oneer is nie; maar as ‘n vrou lang hare dra, dit vir haar ‘n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ‘n bedekking?” “Die natuur” kan ook verwys na ‘kultuur, gewoonte, en gebruik’ (van Wyk 1980:47). Die gedagte dat dit verkeerd sou wees vir ‘n man om lang hare te dra word uitgeskakel deur die voorskrifte t.o.v. die nasireërsgelofte (Númeri 6:1-5, Rigters 13:5, en 1Samuel 1:11). 
Die feit is dat dit nie sosiaal aanvaarbaar was dat ‘n man onder normale omstandighede sy hare lank sou dra soos die van ‘n vrou nie, en dat ‘n vrou nie haar hare kort sou sny soos die van ‘n man nie. Verder kom die beginsel van geslagsonderskeid baie sterk na vore, en dít word nie beperk tot ‘n historiese kultuur nie, maar wel ‘n Goddelike instelling. 

Die beginsel agter dit wat Paulus vir die gemeente sê word gevind in die laaste twee teksverse van die vorige hoofstuk wanneer hy sê: “Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word”. Alhoewel hy dit skryf in verband met die eet van afgodsoffervleis is dit waardevol om rekening te hou met die feit dat hy direk daarna die saak van hoofbedekking aanspreek.

Die tweede beginsel wat duidelik in die konteks van hierdie gedeelte na vore kom is die orde en struktuur wat die Here daar gestel het. In vers 3 word daar gesê: “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus”. Vers 10 sê dat die vrou ‘n “aanduiding van gesag op die hoof” moet hê. Drie keer in hierdie hoofstuk kom die gedagte van struktuur sterk na vore, naamlik: Verse 3-7 handel oor die teologiese orde, verse 8-10 oor die skeppingsorde, en verse 14-15 oor die natuurlike orde (van Zyl 2015). 

Die vraag is egter waarom die vrou ‘n aanduiding van gesag moet hê ter wille van die engele? Van Zyl (2015) is van mening dat dit te doen het met die rol wat engele in die lewens van die kinders van die Here vervul. Hebreërs 1:14 vra: “Is hulle (die engele) nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” Alhoewel daar nie met sekerheid gesê kan word wat die betekenis hiervan is nie, is die aanname dat die hoofbedekking van die vrou ‘n sigbare uitdrukking was van die erkenning van die gesagstruktuur wat God daar gestel het, en dat die rol van die (onsigbare) engele in hierdie struktuur aanvaar word. 
‘n Sigbare uitdrukking kan dit ook vir die vrou makliker maak om die gesag te aanvaar. Dit is duidelik dat die opdrag aan die vrou om haar hoof te bedek direk met die aanvaarding van gesag te make het. Hale (1996:664) verwys na die Griekse instelling dat selfs slawe - vroue én mans – hoofbedekkings in die openbaar gedra het. Paulus laat egter nie die man toe om sy hoof te bedek wanneer gebid of geprofeteer word tydens die samekomste van gelowiges nie aangesien die man nie onder die gesag van ‘n ander mens staan in sy Godsdiensbeoefening nie, maar slegs onder Christus.     
 
Vers 16 is egter nie doelloos geplaas nie, maar het hou direk verband met die onderwerp van hoofbedekking. Paulus skryf: “Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so ‘n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie”. Dit kan met vrymoedigheid aanvaar word dat daar ook in hierdie verband twis in hierdie gemeente was. Terwyl sommige pas-weergeborenes hulle nuutgevonde vryheid ook in hiérdie opsig wou laat geld, was daar andere wat gevoel het dat hierdie nuwe verskynsel onder vroue maklik verkeerdelik geassosieer kan word met die sondige leefstyl van die prostitute en Paganistiese priesteresse. 

Volgens McGee (1983:52) gee Paulus nie die kerk ‘n stel reëls oor haarstyle en hoofbedekkings nie, maar hy vertel aan die gemeente wat die beste in in hulle omstandighede in ag genome die onveranderlike gesagstrukture soos deur God self ingestel. In vers 13 sê hy: “Oordeel self: Is dit betaamlik dat ‘n vrou met onbedekte hoof tot God bid?” Dit is duidelik dat die gemeente in Korinthe baie goed geweet het wat die norm was. Die afleiding wat hier gemaak kan word is dat Paulus aanbeveel dat, sonder om daaroor te twis, daar by die norm gehou moet word.

Geen ander teksvers in die onfeilbare Woord van God spreek die saak rondom die hoofbedekking van die vrou aan nie, maar wel die motifering vir die bedekking van die hoof deur die vrou, naamlik: die orde wat God ingestel het (Génesis 3:16, Efesiërs 5:22-24, 1Petrus 3:1, 1Timótheüs 2:12, Kolossense 3:18), die noodsaaklikheid van geslagsonderskeid (Deuteronómium 22:5), asook die vermyding van aanstoot teenoor die ongelowiges (Romeine 14:13 en Filippense 1:10). Daarom maak Pfeiffer (1962:1248) die stelling dat elke rede wat Paulus vir die hoofbedekking gee steeds geldig is in die hedendaagse konteks.

Die gevolgtrekking is dus dat dit nie in 1Korinthiërs hoofstuk 11 daaroor  gaan of ‘n vrou wel ‘n hoed moet dra tydens eredienste of nie, maar wel dat sy die gesagstruktuur wat God ingestel het moet erken en dit sigbaar vertoon met in agneming van die norms rakende geslagsonderskeid. Professor F. Davidson (1953:983) stel dit as volg: “We should therefore translate his advice into terms relevant to present-day customs, in order to secure conditions which will similarly produce modesty, propriety and orderliness”.  



Werke Aangehaal:

Afrikaanse Bybel 1953. South African Bible Society.
Barnes A 2014. Albert Barnes’ Notes on the Bible. E-Sword.
Davidson F 1953. The New Bible Commentary. London, The Inter-Varsity
           Fellowship.
Hale T 1996. The Applied New Testament Commentary. Eastbourne Kingsway 
           Publications.
Maartens N [2017]. Die Posisie van die Vrou in die Gemeente. Aanlyn Artikel.
           2017-06-12.
McGee V 1983. Thru The Bible. Nashville, Thomas Nelson.
Pfeiffer CF 1962. The Wycliffe Bible Commentary. London, Oliphants.
Van Wyk GJ 1980. 1 Korinthiërs 11:2-16 'n Hermeneuties-Eksegetiese Studie.
          Aanlyn Artikel. Bekom by http://www.enigstetroos.org/ 
          pdf/VanWykGJ_1Kor11_2_16.pdf, 2017-06-12.
Van Zyl H 2015. Hoofbedekking van Vrouens. Aanlyn Artikel. Bekom by    
          2017-06-12.

                                                           












Popular posts from this blog

Salwing Met Olie: `n Bybelse Gebruik? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)

Judas: Wat leer die Nuwe Testament vir ons oor 'n dienskneg van Jesus? (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)