Die Doop In Romeine 6 (Bybelstudie deur Rudi van Zyl)
Die ‘Doop’ in Romeine 6:
Romeine 6:3-4: “Of weet
julle nie dat ons almal wat in
Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met
Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode
opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan
wandel”.
Hierdie teksvers word
dikwels aangehaal deur die voorstaanders en verkondigers van die
‘onderdompelings bekeringsdoop’ (grootdoop) om te bewys dat die betekenis van
die ‘sakrament van die waterdoop’ is dat die wedergeborene deur hierdie simbool
verkondig dat hy sy ou sondige lewe afgestef het soos Christus gesterf het en
begrawe is, en dat hy nou ‘opgestaan’ het om ‘n nuwe lewe te leef net soos wat
Jesus Christus opgestaan het uit die dood.
Hierdie studie het
geensins ten doel om ‘n bepaalde siening oor die sakrament van die waterdoop te
verdedig of te weerlê nie, maar wel om hierdie teksvers op ‘n verantwoordelike
wyse te verklaar. Daarom sal die “text – context – co-text” reël van
Bybeluitleg hier gebruik word.
Wanneer elke woord in
hierdie teksvers gelees word, en slegs dít wat daar geskryf staan gelees word,
dan sal die Bybelstudent saamstem dat die woord ‘water’ afwesig is. Ongelukkig
maak baie opregte Bybelstudente hulself daaraan skuldig om met vooropgestelde
persepsies ‘n teksvers te lees, en dan gevolglik iets ín te lees wat nie daar
geskryf is nie. Dit is ‘n algemene verskynsel dat baie mense, wanneer hulle die
woord ‘doop’ in die Bybel lees, dadelik die woord ‘water’ sien, en wanneer
hulle die woord ‘water’ lees, hulle onmiddelik die woord ‘doop’ sien. Alhoewel
die Bybel beslis die beoefening van die ‘sakrament van die waterdoop’ beveel en
beskryf, moet dit baie duidelik verstaan word dat die ‘sakrament van die
waterdoop’ beslis nie die enigste ‘doop’ is wat die Bybel beskryf nie, en net
so ook is die ‘sakrament van die waterdoop’ beslis ook nie die enigste konsep
waarop ‘water’ dui in die Skrif nie. Beide die woorde ‘doop’ én ‘water’ word in
verskillende opsigte gebruik wat na verskillende dinge verwys. Alhoewel dit
baie moeilik is om die Bybel objektief te lees, is dit van groot belang vir
goeie Skrifuitleg.
Die Bybel onderskei baie
duidelik tussen verskillende ‘dopinge’:
1.
Die Doping met Water:
Drie verskillende
‘dopinge met water’ word in die Skrif gelees:
a.
Die doop deur Johannes die Doper:
In Johannes 1:31 word
die betekenis van die doop deur Johannes die Doper baie duidelik gegee: “En ek
het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek
gekom en met water gedoop”. Daarom is dit ‘n baie groot fout om die sakrament
van die Christelike waterdoop in konteks te bring met dit wat Johannes die
Doper beoefen het.
b.
Die doping van die Here Jesus Christus:
Die Skrif laat ons ook
in geen onduidelikheid oor die betekenis van die doop van Jesus Christus nie.
In Matthéüs 3:15 lees ons: “Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit
nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom
toegelaat”. Hier sien ons baie duidelik dat, alhoewel die Here Jesus deur
Johannes die Doper gedoop is, dit heeltemal ‘n ander betekenis gehad het as die
doop waarmee Johannes die Doper die Jode gedoop het.
c.
Die Christelike doop:
Die Bybel gee ook die
betekenis van die Christelike doop wanneer die Apostel Petrus in Handelinge 2:38
sê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus
Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees
ontvang”. Die ‘vergifnis van sonde’ gesimboliseer deur die sakrament van die
doop is ‘n geldige gevolgtrekking wat hier gemaak kan word.
2.
Die Doping met die Heilige Gees:
In Matthéüs 3:11 sê
Johannes die Doper: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná
my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy
sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur”. Hierdie ‘doop’ hou geen
verband met water nie, maar verwys na die ondervinding waar die Heilige Gees uitgestort
is, asook die ondervinding waar die weergebore kind van God vervul word met die
Heilige Gees.
3.
Die Doping in Jesus se Lyding:
Die Griekse woord
‘baptizo’ (doop) het vele betekenisse, soos byvoorbeeld begieting,
besprinkeling, onderdompeling, vereenselwiging, aanraking, om iets in die
rigting van iets anders te neem, te drink (in te neem) ens. In Matthéüs 20:22-23
lees ons: “Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan
julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop
waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. En Hy sê vir hulle: Dis
waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal
julle gedoop word...” Sonder enige twyfel verwys hierdie teksvers na die
vervolging wat die dissipels van die Here Jesus sou deurgaan terwyl hulle
hulself vereenselwig met die lyding van die Here Jesus Christus. Ook hier is
daar geen sprake van die sakrament van die waterdoop nie.
4.
Die Doping in Moses:
Paulus skryf in 1Korinthiërs 10:1-2: “Want ek wil nie hê, broeders, dat
julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur
die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die
see...” Dit is baie duidelik dat hier verwys word na die vereenselwiging van
die Jode met Moses en die gebeure van die trek uit Egipte. Geen water of
sakrament is hier ter sprake nie.
5.
Die Doping vir die Dode:
Paulus skryf ook in 1Korinthiërs 15:29: “Anders, wat sal
hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie
opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?” Wat presies
hierdie ‘doping’ behels het, is daar die sekerheid nie, maar dit hou duidelik
ook geen verband met die sakrament van die waterdoop nie. Hierdie was egter ‘n
verkeerde praktyk.
6.
Die Doping in Jesus Christus:
In Galasiërs 3:26-27 sê
die Apostel Paulus: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in
Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met
Christus beklee”, en dan in Kolossense 2:12: “omdat julle saam met Hom begrawe
is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking
van God wat Hom uit die dode opgewek het”. Hierdie teksverse verwys na
dieselfde ondervinding as dit waarna Romeine 6:3-4 verwys, naamlik
wedergeboorte. Die oomblik wanneer iemand tot bekering kom, vereenselwig (doop)
hy hom met die kruisdood en opstanding van die Here Jesus. Hier is geen water
of sakrament ter sprake nie, maar dit is ‘n geestelike doping in die liggaam
van Christus.
Die konteks gee verdere
lig op hierdie onderwerp. Romeine 6 gaan primêr oor die verlossing van sonde en
sluit regverdigmaking (redding) en heiligmaking in. Daar is niks in die konteks
wat handel oor die sakrament van die Christelike waterdoop nie. Vers 5 begin
met die woord “want”. Hierdie woord word gebruik om twee stellings met mekaar
te verbind deur die een as ‘n ‘oorsaak’ en die ander as ‘n ‘gevolg’ te stel. Romeine
6:3-4 kan nie geïsoleerd gelees word nie, en daar moet gekyk word na verse 5-6
wanneer Paulus skryf: “Want as ons met Hom saamgegroei
het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan
sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat
die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde
sou dien nie”. Twee woorde waarop aandag gevestig moet word is “is”, “sodat” en
“sou” (vers 6). Die ‘oue mens’ ís alreeds gekruisig saam met Christus (toe ek
in Christus gedoop is tydens wedergeboorte), sodat iets anders kan volg naamlik
die ‘tot nietmaing’ (vernietiging) van die “liggaam van die sonde” wat eers
gebeur wanneer die kind van die Here se hart gereinig word van inwonende sonde
(hoofstuk 7) en hy ‘gedoop’ (vervul) word met die Heilige Gees. Paulus begin Romeine
6 om die kinders van die Here te wys op nie noodsaaklikheid van oorwinning oor
sonde. In hoofstuk 5 het hy met hulle gepraat oor regverdigmaking, in hoofstuk
7 behandel hy die stryd teen ‘inwondende sonde’ in die kind van die Here se
lewe. Hoofstuk 6 kan dus nie op sy eie staan nie, en is dit duidelik dat dit
relevant is tot die ander twee onderwerpe. Hy wys dus die kind van die Here
daarop dat die feit dat jy weergebore is beteken dat jy nie meer moet volhard
in sonde nie, maar oorwinning moet kry oor sonde deur verlos te word van die
beginsel van inwondende sonde (wat die oorsprong van daadsonde is). Die
ondervinding bevestig egter dat die sakrament van die waterdoop geensins ‘n
efek het op die mag van sonde nie, en dat dit slegs die Bloed van Jesus Christus
is wat ‘n mens daarvan kan reinig.
Wanneer die Skrif in sy geheel bestudeer word, kom die
gedagte baie sterk na vore dat iemand wat waarlik tot bekering gekom het en
gevolglik weergebore is, ‘ín Christus’ is. So skryf Paulus in Efesiërs 1:13: “in
wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle
redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die
Heilige Gees van die belofte” Die gedagte van ‘ín Christus’ kom nie minder as
30 keer in die boek Efesiërs alleen voor nie.
Die kruisdood en opstanding van Jesus Christus is die bron en basis van
ons redding. So skryf Paulus in 1Korinthiërs 15:1-4: “Broeders, ek maak julle
die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem
het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan
vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet
tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat
ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte...”
Die Evangelie is dus die kruisdood en opstanding van die Here Jesus. In Romeine
1:16 sê Paulus: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want
dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en
ook vir die Griek”. Wanneer iemand gered word beteken dit dus dat hy: 1. Na die
Here Jesus gaán vir sondevergifnis (gedoop word in Christus); 2. homself
vereenselwig met die kruisdood en opstanding van Jesus Christus (gedoop word in
die dood en opstanding van Jesus); 3. die Here Jesus ‘in te neem’ deur die
Heilige Gees wat in die weergeborene se hart kom woon (gedoop word ín Christus
deúr die Heilige Gees). Daarom sê Paulus ook in 1Korinthiers 12:13: “Want ons
is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is,
slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge”.
Waar die sakrament van die waterdoop ‘n menslike
handeling / werk is, is die doping in Christus absoluut ‘n Goddelike werk. In Titus
3:5 skryf Paulus: “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen
het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die
wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”.
Romeine 6:3-4 kan dus as volg verduidelik word: ‘Ons almal wat gered is, is met die kruisdood
en opstanding van Jesus Christus vereenselwig, en kan daarom vry van die mag
van sonde lewe’.
Jamieson, Fausset and Brown Commentary skryf die
volgende: “It is not, “By baptism we are buried with Him
into death,” which makes no sense at all; but, “By baptism with Him into
death we are buried with Him”; in other words, “By the same baptism which
publicly enters us into His death, we are made partakers of His burial
also”.
Die Here Jesus is aan die
kruis met ons sonde in aanraking gebring (ons kan sê dat Hy met ons sondes
gedoop is), sodat wanneer ons met Jesus se dood vereenselwig word (gedoop word
in Christus) ons gered word. 2Korinthiërs 5:21: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir
ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom”. 1Petrus 2:24 sê:
“(Jesus) wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat
ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde
julle genees is”.
Werke Geraadpleeg:
Afrikaanse Bybel 1953.
Die Bybelgenootskap van Suid Afrika.
Dale JW 2008. Classic Baptism. Mundelein Illinois,
Bolchazy-Carducci Publishers, Inc.
Jamieson, Fausset and Brown 2014. Jamieson, Fausset and
Brown Commentary. E-Sword.
König A 1986. Die Doop as Kinderdoop en Grootdoop. NG
Kerkboekhandel.
Möller FP 1976. Die Sakrament in Gedrang. Braamfontein
Suid Afrika, Evangelie Uitgewers.
Nuwe Protestante
Kweekskool n.d. Die Doop.
Potgieter PC 1977. Wat Moet Ek van die Doop Weet? NG
Kerkuitgewers.